Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika wil ‘n betekenisvolle ooreenkoms met Amerika bereik te midde van spanning
# Rugby: Felix Jones keer terug as hulpafrigter van die Springbokke
# En geboortes in Japan bereik die laagste vlak sedert die begin van amptelike rekordhouding in 1899
# President Cyril Ramaphosa sê die regering wil ‘n betekenisvolle ooreenkoms met Amerika bereik oor internasionale betrekkinge en handel, eerder as om sy beleide te moet verduidelik. Ramaphosa het in Johannesburg tydens ‘n gesprek met die ondervoorsitter van Goldman Sachs, Richard Gnodde, gepraat oor die spanning rondom grondonteieningswette en die standpunt oor Israel, wat daartoe gelei het dat Amerika sy hulp gestaak het. Ramaphosa het verduidelik daar is op geen privaat grond beslag gelê sedert apartheid geëindig het nie:
Die kabinet herbevestig intussen sy steun vir die besluite van die Afrika-unie en die Verenigde Nasies oor die voortslepende konflik in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Daarvolgens is diplomatieke pogings, vredesendings en samewerking in die streek noodsaaklik om bestendigheid te herstel en burgerlikes te beskerm. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie alle partye aangemoedig om te werk aan ‘n vreedsame oplossing en ‘n einde aan vyandelikhede:
# ActionSA is diep besorg oor ontstellende bevindings na ‘n parlementêre toesigbesoek aan korrektiewe geriewe in KwaZulu-Natal. Die verslag beklemtoon wydverspreide dwelmbedrywighede, swak sekerheid en verkwistende besteding van belastingbetalersgeld. ActionSA se woordvoerder, Dereleen James, kritiseer die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, omdat hy afwesig was tydens hierdie belangrike besoeke en eis dat hy die situasie eerstehands waarneem. Sy vra onmiddellike optrede om dissipline te herstel en te verseker die korrektiewe stelsel dien sy rehabilitasiedoelwitte.
# Rugby: Felix Jones, wat ‘n dubbele Wêreldbeker-wenner is, keer terug as Springbok-hulpafrigter na ‘n kort tydjie by Engeland. Nasionale breier Rassie Erasmus het hom aangekondig as een van sy ses hulpafrigters. Erasmus het Jones en twee ander nuwe toevoegings bekendgemaak. Lance Lemmetjies is vanaf Junie een van twee fisioterapeute in die mediese span en Robyn Moore is vanaf 1 April die span se dieetkundige. Jones sluit die naweek by die span aan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-199-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-995-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Geboortes in Japan het verlede jaar nog ‘n rekordlaagtepunt bereik en die negende agtereenvolgende jaar gedaal. Jongmense stel hulle troues uit terwyl die bejaarde bevolking toeneem. Die syfers beklemtoon die dramatiese demografiese uitdagings waarmee die wêreld se vierde grootste ekonomie worstel te midde van ‘n krimpende arbeidsmag wat die koste moet dra vir die versorging van die bejaarde bevolking. Geboortes was in 2024 vyf-persent laer as in 2023 en is die laagste sedert rekordhouding in 1899 begin het. Daar was verlede jaar dubbel soveel sterftes as geboortes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….