Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Antwoorde word geëis oor die Suid-Afrikaanse soldate in die DRK
# Trump sê Zelensky gaan die Withuis besoek ná Oekraïne se mineraalooreenkoms met Amerika
# En motorsport: Albertpark se Formule Een-baan in Melbourne word oopgestel vir voetgangers na ‘n jaarlange verbod
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, ondervind erge druk om duidelikheid te verskaf oor hoe sake staan met betrekking tot soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo. Dit volg ná berigte van lede wat met beperkte voorraad in Goma vasgekeer is. Die DA eis die volledige getal soldate en besonderhede oor hul toestand. Die DA-lid Nicholas Gotsell eis ook ‘n verduideliking vir die voortgesette ontplooiing al is die M23-rebelle uiters gevaarlik:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement vra kalmte te midde van die uitbreking van hand-voet-en-mondsiekte. Die provinsie het tot dusver 13 gevalle by vier onderwyssentrums in Oos-Londen aangemeld. Die departement se woordvoerder, Siyanda Manana, sê die uitbreking bly onder beheer en daar is tans geen ernstige bedreiging vir openbare gesondheid nie:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy verwag sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodymyr Zelensky, Vrydag in Washington om ‘n minerale-ooreenkoms te onderteken. Dit sal hopelik die weg baan vir verdere samewerking tussen Kiëf en Amerika ondanks die vyandigheid nadat Washington hom by Moskou geskaar het. Trump het sonder om ‘n ooreenkoms te bevestig, gesê in ruil vir so ‘n ooreenkoms sal Oekraïne die reg hê om voort te veg. Trump beywer hom vir toegang tot Oekraïne se minerale in ruil vir militêre en ander hulpbronne nadat Rusland drie jaar gelede ‘n volskaalse inval begin het.
# Motorsport: Toeskouers sal weer toegelaat word om op Albertpark se baan in Melbourne te stap wanneer die Formule Een-seisoen op 16 Maart in Australië afskop. Die gebruik is verlede jaar verbied nadat ‘n groot aantal toeskouers naby die einde van 2023 se wedren op die baan gestap en by Nico Hulkenberg se gestrande Haas-renmotor kon uitkom. Die organiseerders sê die sogenaamde “baan-stap” is weer ingestel na goedkeuring van die owerhede. Hulle sê die gebruik is uniek en ‘n gekoesterde ondervinding. Veiligheidsmaatreëls sal getref word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-251-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Man in Sjanghai, China, het bykans 515-duisend rand verloor nadat hy mislei is in ‘n langafstandverhouding met ‘n vriendin wat met KI geskep is. Swendelaars het deur middel van sagteware met kunsmatige intelligensie realistiese videos en stilfoto’s van ‘n jong vrou geskep. Die slagoffer het die geld na sy aanlyn minnares se bankrekening oorgeplaas, nadat die swendelaars hom oortuig het sy het geld nodig om ʼn onderneming te open en ʼn familielid se mediese rekeninge te betaal. Die swendelaars het selfs ‘n vals ID en mediese verslae geskep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….