Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SANW versoek befondsing om ‘n sterk militêre mag op te bou
# Krieket: ‘n Pakistanse kolwer besef die gashere moet in elke faset verbeter na sy tweede nederlaag van die Kampioenetrofee
# En die Kaapstadse Metropolisie verwelkom 10 nuwe vierbeenrekrute
# Die geneesheer-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, luitenant-generaal Ntshavheni Maphaha, vra befondsings-ondersteuning. Hy het by die begrafnis van stafsersant Ishmael Molahlehi in Thaba Nchu in die Vrystaat gepraat. Molahlehi was een van 14 soldate wat onlangs in die Demokratiese Republiek die Kongo gesterf het. Maphaha versoek politici om tussen ‘n sterk of swak weermag te kies. Hy sê soldate soos Molahlehi bly toegewyd aan vredespogings:
# Politieke kenners waarsku dat die ANC ‘n teenreaksie van kiesers kan verwag in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing weens die voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte en die hervatting van beurtkrag. Die politieke ontleder Pule Monama het aan Citizen gesê die voorgestelde BTW-verhoging is ‘n self-toegediende wond, terwyl Lesiba Teffo sê dit sal kiesers se besluite beïnvloed in 2026. Ontleders stel ‘n verhoging van een-persentasiepunt voor met meer produkte wat van BTW vrygestel word. Hulle sê plaaslike gemeenskappe spreek ook hulle frustrasie uit oor swak bestuur en ekonomiese ellende.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, waarsku dat menseregte wêreldwyd versmoor word, insluitende deur oorloë en geweld. Hy het aan die VN se Menseregteraad in Genéve gesê dat menseregte versmoor word deur outokrate wat enige teenstand onderdruk omdat hulle vrees wat werklik bemagtigde mense mag doen. Guterres sê oorlogstokers steur hulle nie aan die internasionale reg, internasionale humanitêre reg en die VN-Handves nie, terwyl oorloë en geweld mense van hulle reg tot kos, water en onderwys ontneem.
# Krieket: Die Pakistanse kolwer Saud Shakeel besef hulle moet in elke faset van hul spel verbeter. Hulle het gister in Dubai met ses paaltjies teen hulle aartsvyand, Indië, verloor. Dit was die gasheer se tweede nederlaag in die Kampioenetrofee en plaas hom op die randjie om uitgeskakel te word. Shakeel het die beste gevaar met 62, maar Pakistan is vir net 241 uitgeboul en Indië het die teiken in hulle 43ste boulbeurt bereik. Bangladesj moet Nieu-Seeland vandag klop om Pakistan nog enige kans te gee om die halfeindronde te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-791-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-946-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse Metropolisie se honde-eenheid het tien nuwe vierbeen-rekrute verwelkom, almal Belgiese Malinois. Die aantal honde staan nou op 20. Die nuwe groep ondergaan tans basiese opleiding. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê vier sal kwalifiseer as kopermetaal- en dwelmopsporingshonde, vier sal algemene patrolliewerk doen en help om oortreders te vang, en die ander twee sal help soek na vermiste persone:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….