Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Algemene handelaars en klere-kleinhandelaars vuur die groei in kleinhandelverkope aan in Desember
# Tennis: Venus Williams en Petra Kvitova is promotorskeuses op Indian Wells
# En die eerste graftombe van ‘n farao in Egipte word gevind sedert Toetankamen s’n
# Kleinhandelverkope het volgens Statistieke Suid-Afrika in Desember met 3,1-persent op ‘n jaargrondslag gegroei. Dit is hoofsaaklik aangevuur deur kleinhandelaars in klere, skoeisel en leergoedere, met ‘n toename van 7,8-persent. Algemene handelaars het twee-persent groei bygedra. Juan-Pierre Terblanche van Stats SA sê die vierde kwartaal van 2024 het ook ‘n styging van 5,4-persent getoon vergeleke met dieselfde tydperk in 2023:
# AfriForum vra duidelikheid van Eskom oor die verpligte registrasie van kleinskaalse ingeboude kragopwekkers tot 50-kilowatt. Die burgerregtegroep voer aan onlangse aankondigings oor registrasiefooie en boetes laat sonkraggebruikers in die duister. AfriForum vra regsverwysings vir hierdie toepassingsmaatreëls van Eskom en regverdiging vir moontlike boetes. Die organisasie waarsku onduidelike beleid kan die aanvaarding van sonkrag ontmoedig, wat Suid-Afrika se energietoekoms kan beïnvloed.
# Die Stad Kaapstad moedig die minister van Vervoer, Barbara Creecy, aan om ‘n Ooplug-beleid in te stel om ekonomiese groei, toerisme en handelsgeleenthede te bevorder. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het sy passasiersteiken vir verlede jaar met 125-persent oortref. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê ʼn Ooplug-beleid sal beperkings op vliegroetes, vermoë, pryse en marktoegang verwyder en lugrederye in staat stel om mededingend bedryf te word:
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Venus Williams van Amerika, en die tweemalige Wimbledon-wenner, Petra Kvitova van die Tsjeggiese Republiek, is promotorskeuses op volgende maand se Indian Wells Ope in Amerika. Die 44-jarige Williams sukkel met beserings en kon nog nie weer speel sedert die eerste ronde van die Miami Ope in Maart verlede jaar nie. Kvitova keer terug van kraamverlof na haar eersteling in Julie verlede jaar gebore is. Williams het Indian Wells se halfeindronde drie keer gehaal terwyl Kvitova drie keer in die kwarteindronde gespeel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-407-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-947-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Egiptoloë het die eerste graftombe van ‘n farao ontdek sedert Toetankamen s’n meer as ‘n eeu gelede. Koning Toetmose die Tweede se graf was die laaste onontdekte koninklike graf van die 18de Egiptiese dinastie. Dit is geleë in die westelike Valleie van die Theban-dodeakker naby Luxor. Toetmose was ‘n voorouer van Toetankamen, wie se heerskappy van ongeveer 1493 tot 1479 voor Christus geduur het. Hy was die man van koningin Hatshepsoet, wat as een van die beste farao’s beskou word en een van die min vroulike heersers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….