Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die begrotingsrede word uitgestel weens onenigheid oor belastingverhogings
# Suid-Afrika kyk na ‘n streeksvennootskap met die herlewing van sy reuse-olieraffinaderyplan
# En die Olimpiese Spele: Brisbane kondig volgende maand die finale planne aan vir 2032 se Spele
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het aangekondig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal nou sy begrotingsrede lewer op ‘n dag iewers in Maart. Dit is van vanmiddag uitgestel weens onenigheid binne die regering van nasionale eenheid oor voorgestelde belastingverhogings, insluitend ‘n moontlike verhoging van twee-persentasiepunte in BTW. Didiza het aan parlementslede gesê die voorlegging sal plaasvind sodra ‘n ooreenkoms bereik is:
# Suid-Afrika herbevestig sy planne vir ‘n reuse-olieraffinadery ondanks die wêreldwye verskuiwing na hernubare energie. Die adjunkdirekteur-generaal van Minerale en Petroleumhulpbronne, Tseliso Maqubela, het in die Parlement gesê brandstofsekerheid verkeer in gevaar nadat binnelandse raffinaderye gesluit het. Maqubela sê die regering se planne sluit die herlewing van die Sapref-raffinadery met ‘n streeks-olievennoot in, die finalisering van die Petroleumsektor-meesterplan, die vermeerdering van berging en die ontwikkeling van brandstofterminale by Island View in Durban en die Ngqura-hawe. Hy vra dringende optrede om die land se brandstofvoorraad te verseker.
# Die politieke ontleder Kenneth Mokgathle sê die onlangse beraad van die Afrika-unie het nie met enige oplossing of ingryping vorendag gekom vir lande waarin konflikte heers nie. In die Demokratiese Republiek die Kongo het die M23-rebelle die stede Goma en Bukavu oorgeneem en baie mense is tydens die gevegte dood. Mokgathle sê daar is ook ‘n krisis in Soedan waar miljoene mense steeds gedood, beseer en ontheem word:
# ‘n Nuwe Britse wet sal dit moeiliker maak vir jongmense om messe aanlyn te koop. Die regering het strenger regulasies aangekondig na ‘n aantal noodlottige mesaanvalle waarby jongmense betrokke was. Dit sluit in die tiener Axel Rudakubana wat verlede jaar drie jong meisies doodgesteek het met ‘n mes wat hy op Amazon kon koop deur ouderdomsbevestigings-reëls te omseil. Die nuwe wet vereis dat verkopers agterdogtige gedrag en grootmaat mesaankope aanmeld en ouderdomstoetse strenger toepas. Handelaars wat messe verkoop aan mense jonger as 18 kan tot twee jaar tronkstraf kry.
# Olimpiese Spele: Brisbane in Australië, wat die Spele in 2032 gaan aanbied, gaan volgende maand aankondig waar die hoofstadion sal wees. Politieke onenigheid het voortgesette onsekerheid veroorsaak oor die finale planne. Queensland se premier, David Crisafulli, het daarom ‘n paneel aangestel om ‘n tweede hersiening van die keuses te doen. Die bevindings en die regering se siening sal op 25 Maart bekend gemaak word. Crisafulli se voorganger, Steven Miles, het vroeër die opknapping van die Gabba-krieketveld en ‘n voorgestelde nuwe stadion in Victoriapark verwerp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-315-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-933-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….