Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stad Tshwane waarsku oor Vlak 2-waterbeperkings
# Zelensky sê meer as 46-duisend Oekraïense soldate het reeds in die oorlog gesterf
# En sokker: Real se middelveldspeler Bellingham kan vir 12 wedstryde geskors word na ‘n stryery met die skeidsregter
# Die Stad Tshwane versoek inwoners om water spaarsaam te gebruik aangesien hoë verbruiksvlakke tot Vlak 2-waterbeperkings kan lei. Rand Water het dalende reserwevlakke aangeteken, met Tshwane wat sy daaglikse verbruiksdrempel oorskry. Die stad waarsku indien die verbruik nie verminder word nie, kan waterrantsoenering en verhoogde tariewe volg. Reservoirs wat tans onder druk verkeer, sluit in Akasiapark, Koedoesnek, The Reeds en Wonderboom. Die stad vra inwoners om water te bespaar om verdere tekorte te voorkom.
Die DA sê intussen Gauteng se watervoorsieners en sy munisipale leiers moet voor die Parlement verskyn en rekenskap gee van die mislukkings wat lei tot die afsny van water in groot dele van die provinsie. Dit volg nadat Rand Water se reservoirvlakke die afgelope maand met byna 35-persent gedaal het. Stephen Moore van die DA sê die provinsie ondervind ‘n kombinasie van uitdagings. Hy sê dit sluit in verslegtende massa-infrastruktuur, probleme met rekeninge en betalings, en watersuiwerings- en voorsieningstelsels wat nie gemoderniseer word nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum versoek die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om minstens die maatskaplike toelae te verhoog vanweë die stygende lewenskoste. Die minister lewer Woensdag sy begrotingstoespraak. Die president van die forum, Marothi Mashashane, sê die minister behoort eers die armes te help en dan oplossings te vind vir die ekonomiese en maatskaplike faktore wat tot armoede en ongelykheid bydra:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, glo meer as 46-duisend van die land se soldate het reeds gesterf in die oorlog met Rusland. Zelensky het teenoor NBC aangedui nog duisende word vermis of is in aanhouding. Oekraïne was dikwels huiwerig om hierdie getalle te verskaf weens vrese dat dit die land kan ontsenu. Sy kommentaar volg ná die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer het 400-duisend Oekraïense soldate het gesterf. Die Britse Departement van Verdediging het verlede maand gesê bykans 800-duisend Russiese soldate is dood of gewond.
# Sokker: Die middelveldspeler van Real Madrid, Jude Bellingham, kan vir tot 12 weke geskors word na sy rooikaart in die naweek se La Liga-wedstryd teen Osasuna in Pamplona, Spanje. Hy is afgestuur na ʼn woordewisseling met die skeidsregter wat glo vol kru taal was. Die Engelse speler het later verskoning gevra nadat hy aanvanklik ontken het hy het die skeidsregter beledig en beskryf die voorval as ʼn misverstand. Die wedstryd het met een-elk gelykop geëindig. Madrid is steeds boaan die punteleer en Osasuna negende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-306-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-896-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….