Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom herstruktureer sy forensiese en ondersoekfunksies om korrupsie te bekamp
# Rugby: Die Haaie pak die Bulle sonder sy voorste Bokke
# En die Beenmurgregister vra meer befondsing vir opvoeding oor kinderkanker
# Eskom het sy forensiese en ondersoekfunksies herstruktureer as deel van sy voortdurende pogings om korrupsie te bekamp en sy bestuur te versterk. Die nuwe afdeling vir groepsondersoeke en sekerheid, wat regstreeks aan die uitvoerende hoof, Dan Marokane, verslag doen, beoog om wangedrag aan te pak en interne beheermaatreëls te verbeter. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hierdie stappe en ‘n vennootskap met die Spesiale Ondersoekeenheid is deurslaggewend om oortreders aanspreeklik te hou en finansiële verliese te verhaal:
# FutureCoal sê nie-strydige en duidelike beleide en strategieë is nodig om die verantwoordelike en volhoubare gebruik van steenkool te verseker. Hy het sy Suider-Afrikaanse Afdeling bekendgestel wat vier voorste steenkoolryke nasies byeenbring: Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe en Botswana. Die vier lande saam het volgens raming steenkoolreserwes van sowat 150-miljard ton. FutureCoal se uitvoerende hoof, Michelle Manook, sê dis moontlik om steenkool volhoubaar te bestuur, veral omdat dit vir lande wat hulle ekonomieë ontwikkel, ‘n strategiese bate bly:
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge weerlê bewerings dat Suid-Afrika in rassehaat vasgevang is. Hermann Pretorius van die instituut sê onlangse data toon 87-persent van Suid-Afrikaners stel samewerking tussen rassegroepe eerste, terwyl werkloosheid en werkskepping die land se grootste bekommernisse bly. Die liggaam moedig leiers aan om rassebeleide wat misluk het, soos swart ekonomiese bemagtiging, te laat vaar en op nie-rassige ekonomiese groeistrategieë te fokus om nasionale trots te herstel.
# Rugby: Die Haaie durf die Bulle sonder ʼn aantal Springbokke aan wanneer hulle môre in die Verenigde Rugbykampioenskap op Loftus Versfeld in Pretoria speel. Vincent Tshituka bly kaptein in die afwesigheid van die Bokke Eben Etzebeth en Siya Kolisi. Die Haaie het ʼn Bok-voorry van Ntuthuko Mchunu, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane. Grant Williams en Siya Masuku is die skakelpaar en Lukhanyo Am speel saam met Jurenzo Julius in die middelveld. Ethan Hooker, Yaw Penxe en Jordan Hendrikse is die agterste driehoek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-694-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-931-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag Internasionale Kinderkankerdag en die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister versoek meer befondsing vir opvoedkundige hulpbronne om te help in die stryd teen kinderkanker. Die register is van mening toegang tot akkurate, nagevorste inligting kan vroeë opsporing en behandeling verbeter en sal beter ondersteuning aan gesinne bied. Laat-stadium diagnose is ‘n groot uitdaging in Suid-Afrika. Die liggaam sê beter bewusmaking kan help om oorlewingsyfers te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….