Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# United Africans Transformation sê Weermag-soldate moenie as pionne gebruik word in konflikte nie
# Tennis: Novak Djokovic wil volgende week in Doha terugkeer na sy besering
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie stel gratis kankermedisyne beskikbaar vir kinders in lae- en middelinkomstelande
# United Africans Transformation sê Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-soldate behoort nie as pionne gebruik te word in konflikte wat nie Suid-Afrika se belange dien nie. Veertien soldate het in die Demokratiese Republiek die Kongo gesterf tydens gevegte met M23-rebelle. Die party se woordvoerder, Mighty Mabula, sê as die regering soldate wil ontplooi, moet daar behoorlik beplan word:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, veroordeel ten sterkste korrupsie en misdadige bedrywighede deur openbare amptenare. Dit volg op ‘n groot klopjag by die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit in Limpopo. Altesaam 18 mense is in hegtenis geneem, insluitend munisipale amptenare en die eienaar van ‘n bestuurskool. Die Ministerie van Polisie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê hulle sal tereg staan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet:
# Die hoof van die Europese Unie, Ursula von der Leyen, onderneem om daadwerklik terug te slaan teen die besluit van die Amerikaanse president, Donald Trump, om tariewe op staal- en aluminium-invoere in te stel. Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, sê ook die EU sal as ‘n verenigde front reageer en saam optree as die grootste mark ter wêreld. Trump het uitvoerende bevele onderteken om vanaf 12 Maart tariewe van 25-persent in te stel op staal- en aluminiuminvoere, ten spyte van waarskuwings van Europa en China.
# Tennis: Novak Djokovic glo hy sal fiks wees vir die Katarse Ope wat volgende week in Doha begin. Die gewese wêreld-nommer-een sê hy het heeltemal herstel van die beenbesering wat hy tydens verlede maand se Australiese Ope opgedoen het. Die 37-jarige Serwiër moes onttrek tydens sy halfeindstryd teen die Duitser Alexander Zverev. Djokovic gaan mik vir sy 100ste ATP-titel om aan te sluit by die Switserse meester Roger Federer en die Amerikaner Jimmy Connors as die enigste twee spelers wat dit nog kon vermag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-827-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wêreldgesondheidsorganisasie het met ‘n nuwe platform begin wat kankermedisyne kosteloos verskaf aan duisende kinders in lae- en middelinkomstelande. Die eerste besending word aan Mongolië en Oesbekistan gelewer, gevolg deur verdere verskepings na Ecuador, Jordanië, Nepal en Zambië as deel van die aanvangsfase van die projek. Die behandelings sal na verwagting vanjaar ongeveer vyf-duisend kankerlyers in daardie lande bereik. Die WGO beplan om die volgende vyf tot sewe jaar 50 lande te bereik en medisyne aan ongeveer 120-duisend kinders te verskaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….