Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Naasbestaandes word versoek om DNS-monsters te verskaf vir Stilfontein se zama zama-ondersoek
# Die SA Weerdiens vra geduld terwyl kuberveiligheidskenners werk om stelsels te herstel
# En krieket: Corbin Bosch vervang Anrich Nortjé in die Protea-groep vir die Kampioene-trofee
# Naasbestaandes van vermiste onwettige mynwerkers word versoek om DNS-monsters te verskaf om te help met die identifikasieproses in Stilfontein, Noordwes. Familielede wat vermoed hul geliefdes het in die Khuma- of Stilfontein-omgewing gewerk, word gevra om Donderdag en Vrydag die Stilfonteinse polisiekantoor te besoek om te help met die uitkenning van die ongeïdentifiseerde mynwerkers. ‘n Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê 18 DNS-monster is tot dusver ingesamel as deel van die voortgesette ondersoek:
Reddingspogings by die Rand Leases-myn in Roodepoort is intussen gestaak as gevolg van veiligheidsbekommernisse. Dit volg nadat reddingswerkers ‘n tydelike platform bereik het wat die area te gevaarlik maak om verder te werk. Johannesburgse Noodbestuurdienste se woordvoerder, Robert Mulaudzi het bevestig dat hulle nou alternatiewe wyses soek om in die skag te kom. Hy sê die owerhede het Saterdag berigte ontvang dat twee mense in die myn is, maar daar is glo nog meer zama zamas vasgekeer:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens vra geduld terwyl kundiges werk om sy inligting- en kommunikasietegnologiestelsels te herstel na ‘n kuberaanval twee weke gelede. Hoewel sommige dienste beïnvloed is, word noodsaaklike dienste voortgesit, soos lugvaart en voorspellings vir swaar weer, deur die gebruik van ander metodes. Woordvoerder Oupa Segalwe sê die span werk daaraan om die virus te verwyder en data te herwin, maar dit neem langer as wat verwag is:
# Die Chinese minister van Buitelandse Sake, Wang Yi, besoek Europa en Amerika dié week voor hy ‘n Groep van 20-vergadering in Suid-Afrika bywoon. Die aankondiging volg nadat Wang se Amerikaanse ampsgenoot, Marco Rubio, aangekondig het hy gaan G20-vergaderings boikot weens hulle anti-Amerikaanse agenda. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het sy land reeds uit verskeie internasionale organisasies onttrek, insluitend die Wêreldgesondheidsorganisasie. Wang besoek Brittanje en Ierland en die veiligheidskonferensie in München, Duitsland, voor hy na Johannesburg vlieg vir die G20-vergadering van ministers van Buitelandse Sake.
# Krieket: Die Titans se snelbouler, Corbin Bosch, is aangewys as plaasvervanger vir die beseerde Anrich Nortjé in die Protea-groep vir die komende IKR-kampioenetrofee in Pakistan. Die 30-jarige Bosch het sy eendagdebuut in Desember gemaak. Die 18-jarige Kwena Maphaka is ook ingesluit as reisende reserwe. Bosch en Maphaka, en die kolwer Tony de Zorzi, het Sondag na Karatsji vertrek om by die groep aan te sluit vir die res van die drienasies-eendagreeks teen Pakistan en Nieu-Seeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-651-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-906-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….