Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Alison Botha is verlig nadat haar aanvallers se parool herroep is
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen Jorge Martin is hospitaal toe geneem na ‘n ongeluk
# En, Anna Wintour van die tydskrif Vogue word vereer deur koning Charles
# Die verkragtingslagoffer Alison Botha het verligting uitgespreek nadat haar aanvallers, Frans du Toit en Theuns Kruger, terug tronk toe gestuur is. Die mans is in 1995 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir verkragting, poging tot moord en ontvoering in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die Departement van Korrektiewe Dienste het die twee se parool herroep, wat aanvanklik in 2023 sonder Botha se medewete toegestaan is. Botha se regsverteenwoordiger, Tania Koen, sê die besluit moes lankal geneem gewees het. Botha het minister Pieter Groenewald bedank omdat hy gemeenskapsveiligheid voorop stel.
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemingsbestuur vra president Cyril Ramaphosa om tydens sy staatsrede dringende hervormings uiteen te sit. Uitvoerende direkteur, Ann Bernstein, kritiseer die regering van nasionale eenheid omdat daar na nege maande nog nie ‘n duidelike aksieplan bestaan nie. Bernstein beklemtoon die behoefte aan ferm beleidswysigings, insluitend die versterking van staatsdoeltreffendheid, die vermindering van markbeperkings en beter openbare besteding. Sy waarsku die RNE kan misluk indien daar nie betekenisvolle verandering plaasvind nie.
# Die Goma Call for Peace is van stapel gestuur om ‘n onmiddellike wapenstilstand en beskerming vir burgerlikes in die Demokratiese Republiek die Kongo te verseker. Die Anglikaanse biskop van Goma, Martin Gordon, beklemtoon die geweldige lyding sedert die M23-rebelle beheer oor die stad geneem het en wat tot meer as 900 sterftes gelei het. Gordon doen ‘n beroep vir ‘n einde aan die gevegte, die onttrekking van buitelandse magte, en nuwe vredesgesprekke tussen Rwanda en die DRK:
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, is hospitaal toe geneem na ‘n ongeluk op die eerste dag van voorseisoense oefening in Maleisië. Die 27-jarige Spanjaard het na die Aprilia-span geskuif nadat hy verlede jaar die kampioenskap vir Pramac Ducati gewen het. Hy het gekla van pyn in sy linkervoet en regterhand nadat hy van die fiets gegooi is in draai twee van die baan in Sepang. Martin het hard op sy linkervoet geland voordat sy kop die baan getref het. Dit was sy tweede ongeluk van die oefening.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-492-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Die langs-dienende hoofredakteur van die tydskrif Vogue, Anna Wintour, is deur koning Charles vereer. Dit is deel van die koning se verjaarsdag-eerbewyse. Wintour het die Companion of Honour-toekenning in Buckingham-paleis ontvang vir haar dienste aan mode. Koningin Elizabeth het Wintour in 2017 ‘n dame gemaak vir haar bydrae tot mode en die joernalistiek. Sy sê sy was heeltemal verras en oorweldig deur haar tweede verering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….