Nuus 16:00
BULLETIN 3 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê regse politici het Trump mislei oor die Onteieningswet
# Hamas verwelkom die totstandkoming van die Den Haagse Groep wat Palestyne wil steun
# En tennis: Alcaraz beskou Sinner tans as die wêreld se beste speler
# Die GOOD-party vra stappe teen diegene wat vals inligting versprei oor die Onteieningswet wat gelei het tot die Amerikaanse president, Donald Trump, se uitlatings oor beslagneming op grond. Hulle kritiseer regse politici dat hulle Trump mislei en dat dit die ekonomie bedreig. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê alhoewel die wetsontwerp nou as wet aanvaar is, is dit nog nie in werking gestel nie en is ontwerp om eiendomsregte te beskerm:
Die wêreld se rykste mens, Elon Musk, sê intussen die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling is ‘n misdadige organisasie. Trump beweer die agentskap word deur radikale kranksinniges bestuur en hy oorweeg die toekoms daarvan. Die aanval op die humanitêre agentskap wat hulp in die buiteland verleen, is ‘n beduidende nuwe stap in Trump se besluit om ongekende mag aan Musk te gee vir wat hy beskou as die beperking van verkwistende amptelike uitgawes. USAID-projekte lewer onder meer hulp aan hongergeteisterde streke in Soedan, verskaf handboeke aan ontheemde skoolkinders in Oekraïne en lei gesondheidswerkers in Rwanda op.
# Hamas het die stigting van die Den Haagse Groep verwelkom. Die groep is ‘n alliansie van nege lande wat die geregtelike, diplomatieke en ekonomiese maatreëls teen Israel se beweerde oortreding van die internasionale reg wil aanvuur. Die groep is gestig deur Suid-Afrika, Maleisië, Namibië, Colombië, Bolivië, Chili, Senegal, Honduras en Belize, en ondersteun Palestynse selfbeskikking. Hamas sê dit is ‘n deurslaggewende stap om wat hy beskryf as ‘n rassitiese en fascistiese besetting, te beëindig. Die stigting van die groep volg op Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof.
# Tennis: Carlos Alcaraz beskou die wêreld se nommer een-speler, Jannik Sinner van Italië, as die beste speler tans. Die Spanjaard, wat derde op die ranglys is, word saam met Sinner beskou as die Top Twee van die nuwe geslag nadat elkeen verlede jaar twee Grand Slam-titels gewen het. Alcaraz het nou vier, terwyl Sinner verlede maand in Australië sy telling tot drie opgeskuif het. Alcaraz sê Sinner bereik die eindstryd of wen elke toernooi waarin hy speel. Alcaraz is tans die topgekeurde in die Rotterdamse Ope in Nederland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-649-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-802-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid sê hy ontwikkel maniere waarop ekonomiese groei en die beskerming van mariene hulpbronne gebalanseer kan word. Dit volg nadat kenners gewaarsku het die geraas van kommersiële vaartuie onder die water, ontwrig die seelewe. Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, het met verskeie belanghebbendes in Kaapstad gepraat en bevestig daar sal versagtingstrategieë in die Suid-Afrikaanse Maritieme Kode ingebou word. Hy dring aan op ‘n verbetering in die beskikbaarheid van hulpbronne:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….