Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa betreur die dood van 13 Suid-Afrikaanse soldate in die DRK
# Die beplande nuwe internasionale lughawe in die Boland gaan nie die Kaapstadse Lughawe bedreig nie
# En rugby: Spelers wat in Argentinië ondersoek is oor verkragtingsbewerings is op die bank vir Frankryk teen Wallis
# President Cyril Ramaphosa het sy diepe meegevoel betuig na die dood van 13 Suid-Afrikaanse Weermaglede in die Demokratiese Republiek die Kongo. Hulle was deel van ‘n vredesmag. Ramaphosa loof die soldate se opoffering, en beklemtoon Suid-Afrika se militêre teenwoordigheid is nie ‘n oorlogsverklaring teen enige land nie, maar deel van vredespogings. Hy vra ‘n onmiddellike einde aan vyandighede en alle partye om aan vredesonderhandelings deel te neem om bestendigheid in die streek te verseker.
# De uitvoerende hoof van Lughawensmaatskappy Suid-Afrika, Mpumi Mpofu, sê die beplande Kaapse Wynland-lughawe, wat in 2027 open, bedreig nie die Kaapstadse Internasionale Lughawe nie. Sy benadruk verskeie lughawens kan saam bestaan en sê daar is wêreldwyd voorbeelde. Die Kaapse Wynland-lughawe sal as alternatief dien vir vlugherroeterings en om opeenhoping te verlig. Die ontwikkeling begin vanjaar en sluit ‘n aanloopbaan van 3,5-kilometer en nuwe geriewe in.
# Eskom gaan strenger regulasies instel teen sonpaneelstelsels wat aan die kragnetwerk gekoppel is. Die kragvoorsiener waasku alle ongeregistreerde verbindings is onwettig al voer hulle nie elektrisiteit terug na die netwerk nie. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Eskom wil pogings opskerp om al die sonkragstelsels wat aan die netwerk gekoppel is, te reguleer. Sy het aan SABC News gesê minder as twee-duisend kliënte is tans geregistreer:
# Die DA sê dit kan 25-jaar neem om die bestaande agterstand met titelaktes in Gauteng uit die weg te ruim. Dit raak duisende inwoners. Die party beweer die provinsiale Departement van Menslike Nedersettings het die afgelope vyf-jaar slegs 32-duisend titelaktes uitgereik, ondanks die agterstand van 178-duisend. Woordvoerder Mervyn Cirota sê titelaktes is deurslaggewend om sekerheid van huiseienaarskap te bekom, en beloof om dringend op te tree:
# Rugby: Oscar Jegou en Hugo Auradou, wat verlede jaar in Argentinië van verkragting beskuldig maar later vrygelaat is, begin op die bank vir Frankryk in die eerste Sesnasies-wedstryd teen Wallis. Die saak teen die 21-jarige voorspelers is verlede maand laat vaar, maar die klaer se prokureur het geappelleer en die verhoor is vir 10 Februarie vasgestel. Die twee kry Vrydag in die Stade de France die geleentheid omdat die flank Charles Ollivon en die slot Thibaud Flament beseer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-686-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-756-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….