Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verklaar oorlog teen die ongrondwetlike Onteieningswet
# ‘n Aktivis versoek Akademia om Engels in te sluit vir inklusiwiteit
# En, tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, dring op ‘n drafstap deur na die eindstryd van die Australiese Ope
# Die DA het beloof om die nuutgetekende Onteieningswet in die hof uit te daag. Die party glo dit is ongrondwetlik en bedreig Suid-Afrikaners se grondwetlike regte. Die DA sê hy is daartoe verbind om die wetgewing met alle moontlike middele te beveg en beloof om die regering aanspreeklik te hou. Woordvoerder Willie Aucamp sê die wet en die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ondermyn die oppergesag van die reg en hou ‘n gevaar in vir Suid-Afrika se toekoms:
# Die Departement van Gesondheid het die dood van nog ‘n vermeende onwettige mynwerker in Stilfontein, Noordwes, bevestig. Die oorledene was deel van die 33 onwettige mynwerkers wat onder polisiebewaking in die Klerksdorp/Tshepong-hospitaal opgeneem is ná hulle aangekeer is tydens ‘n nasionale reddingsoperasie by ‘n ongebruikte myn. Tshegofatso Mothibedi van die departement sê hulle werk saam met wetstoepassing om verdere lewensverlies te voorkom:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta versoek die privaat Afrikaanse instelling vir hoër onderwys, Akademia, om Engels saam met Afrikaans as onderrigmedium in te stel. Makaneta is vol lof vir die instelling se toewyding tot die behoud van die Afrikaanse kultuur, maar beklemtoon die belangrikheid van inklusiwiteit in hoër onderwys. Hy glo indien kursusse ook in Engels aangebied word, sal dit ‘n meer diverse studentebevolking lok, veeltaligheid bevorder en Akademia as ‘n leier posisioneer in die bevordering van eenheid in Suid-Afrika se multikulturele samelewing:
# Honderde migrante is in Amerika in hegtenis geneem en ander met militêre vliegtuie uit die land geneem nadat president Donald Trump se beloofde massadeportering begin het. Dit kom voor sy besoek aan Kalifornië en Noord-Carolina waar natuurrampe in politieke tameletjies ontaard het. In nog ʼn dol dag in die eerste week van sy presidentskap het Trump aan Fox News gesê hy verkies om nie heffings op China te plaas nie. Dit volg op herhaalde ondernemings om stewige invoerheffings teen Amerika se grootste ekonomiese mededinger van toepassing te maak.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, mik Sondag na sy derde Grand Slam-titel op die Australiese Ope. Die verdedigende kampioen het in die eerste stel gesukkel teen die Amerikaner, Ben Shelton, maar dit uiteindelik in die valbylpot beklink. Hy het die volgende twee stelle 6-2, 6-2 ingepalm om na die titelstryd deur te dring. Sinner speel teen Alexander Zverev van Duitsland wat nog sy eerste Grand Slam-toernooi moet wen. Die wêreld-nommer-twee het deurgedring toe die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, weens ʼn besering onttrek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-294-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-778-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….