Nuus 16:00
BULLETIN 19 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingstribunaal beskryf die vermeende strategie in die manipulering van die rand
# Krieket: Maharaj skitter in Suid-Afrika se oorwinning oor Australië in die eerste eendagwedstryd
# En ActionSA beskuldig die Gesondheidsdepartement van misleiding oor damprook
# Die Mededingingstribunaal se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, het in die Konstitusionele Hof die vyf vermeende sleutelstrategieë uiteengesit wat banke gebruik om die rand te manipuleer. Dit sluit in die koördinering van transaksies, die terughou of omkeer van transaksies, om die 4-uur middag-prysvasstelling te beïnvloed, valse aanbiedinge, en die uitruil van sensitiewe markinligting. Ngcukaitobi voer aan dat hierdie optrede die Mededingingswet oortree, wat op markverdeling en mededingings-beperkende gedrag neerkom. Hy voer aan hierdie optrede dui op stelselmatige samespanning onder plaaslike banke:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte is daarvan afhanklik dat die regering en die Suid-Afrikaanse Reserwebank saamwerk aan ‘n nuwe inflasieteiken van drie-persent. Die buro waarsku egter in sy jongste verslag streng staatsbesteding en hoë rentekoerse vertraag groei, met die bruto binnelandse produk wat na verwagting vanjaar minder as een-persent sal groei. Die buro sê ‘n vroeë ooreenkoms oor die teiken kan die groei tot twee-persent verhoog, maar swak samewerking sal inflasie hoog hou, ekonomiese stagnasie verleng en werkloosheid vererger.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-Raad sê hy onderhandel met e-taxidienste om regverdige toegang en passasiersveiligheid te verseker. Die gesprekke probeer om konflikte oor roetes, lisensiëring en mededinging op te los, en terselfdertyd ‘n veiliger, meer gereguleerde vervoeromgewing te skep. Die president van Santaco, Abnar Tsebe, het aan die media gesê samewerking met alle operateurs is die sleutel tot die beskerming van passasiers en die handhawing van orde in die bedryf:
# Krieket: Die draaibouler Keshav Maharaj het die ergste verwoesting gesaai om die Proteas te help om Australië met 98 lopies te klop in die eerste eendagwedstryd in Cairns. Hy het vyf paaltjies geneem vir 23 en die gasheer is vir 198 uitgeboul. Die Protea-aanvangskolwer Aiden Markram het vroeër die hoogste telling van 82 aangeteken terwyl kaptein Temba Bavuma 65 bygedra het en Matthew Breetzke 57. Die besoekers het 296 vir agt bereik. Die tweede wedstryd word Vrydag in Mackay gespeel en die laaste een Sondag op dieselfde veld.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-548-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, ActionSA sê die Departement van Gesondheid mislei Suid-Afrikaners met radio-advertensies wat beweer damprook is net so skadelik soos rook. Die party voer aan dit is vals propaganda en ondermyn die Parlement terwyl die Wetsontwerp op Tabakprodukte onder hersiening is. Matthew George van ActionSA sê die party het ‘n klagte by die Regulerende Owerheid vir Advertensies ingedien om die advertensies terug te trek en die departement by die Nasionale Vergadering aangegee vir minagting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….