Nuus 16:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 14 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One SA beskou die Kwartaallikse Arbeidsmagopname as kommerwekkend vir indiensneming van die jeug
# eThekwini is besorg oor die uitwerking van oorgrens-misdaad op dienslewering
# En, sokker: Bafana is vol vertroue voor die Wêreldbeker-kwalifiseerders
# Build One South Africa het vandag se vrystelling van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die derde kwartaal as slegte nuus vir die jeug bestempel. BOSA sê die opname openbaar ontstellende neigings, wat toon drie uit elke vyf jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 24 worstel met werkloosheid, wat neerkom op ‘n verbysterende 4,5-miljoen mense. Die leier, Mmusi Maimane, doen ‘n beroep op jongmense om tydens die komende spesiale registrasienaweek op te tree, om ‘n verandering in die regering mee te bring en om die dringende kwessie rondom hoë werkloosheid onder die jeug aan te pak.
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is bekommerd oorgrens-misdaadsindikate teiken nou die munisipaliteit, wat ‘n nadelige invloed op dienslewering kan hê. Dit volg nadat die Valke hierdie naweek twee verdagtes in hegtenis geneem het weens die besit van vermeende gesteelde straatligte ter waarde van 1,2-miljoen-rand by die Kosibaai-toegangspoort tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, doen ‘n beroep op wetstoepassingsowerhede om spanne genoeg tyd te gun om die saak sonder onnodige druk te ondersoek:
Speel klankgreep: ENG GuguonCrossBorder
# Die Automobiel-assosiasie maan motoriste om gereed te maak vir hulle ritte aan die einde van die jaar. Motoriste word gemaan om hulle voertuie in stand te hou en sekerheids-maatreëls soos noodknoppies in te stel vir gemoedsrus. Die AA sê November is die regte tyd om te verseker alle voertuie is gediens, bande is in ‘n goeie toestand en lisensies, insluitend vir sleepwaens en woonwaens, is op datum. Die AA sê dis noodsaaklik om diensverskaffers te vergelyk, en stel voor dat betroubare instellings nagevors word. Motoriste word ook aangemoedig om diens- en waarborgplanne na te gaan om onvoorsiene kostes te voorsien.
# Sokker: Bafana-Bafana begin hulle kwalifiseringsveldtog vir die 2026 Wêreldbeker Saterdag teen Benin in die Moses Mabhida-stadion in Durban. Drie dae later wag ʼn moeilike weg-wedstryd teen Rwanda. Bafana het nog nie sedert 2006 vir ʼn Wêreldbeker gekwalifiseer nie en nog nie weer ʼn belangrike titel op die vasteland gewen nie sedert die Afrika Nasiesbeker in 1996. Daar is vordering met afrigter, Hugo Broos, want die span is vir meer as ʼn jaar onoorwonne. Broos is oortuig hulle kan hulle goeie spelpeil voortsit:
Speel klankgreep: ENG Hugo Broos
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-272-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-945-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-38-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die regering se onvoldoende reaksie op die hongersnood van kinders beklemtoon, en let op ‘n toename in ernstige gevalle van wanvoeding. Die kommissaris, Jonas Sibanyoni, het ‘n voorval uitgelig waarin ‘n ma haar eie lewe en die van haar kinders geneem het weens haar onvermoë om hulle te voed, en sê dit beklemtoon die erns van die saak. Hy het ook kennis geneem van ‘n verslag wat toon binne ‘n jaar het 114 kinders in die Oos-Kaap gesterf weens wanvoeding. Sibanyoni sê ten spyte van skoolvoedingsprogramme en -toelaes is die ondersteuning nie in ooreenstemming met die grondwetlike reg op voldoende voedsel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….