Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beloof om werksgeleenthede te beskerm ná die sluiting van ArcelorMittal se smeltery in Newcastle
# Krieket: Suid-Afrika se onder 19-vrouespan is steeds onoorwonne op die T20-Wêreldbekertoernooi
# En ‘n nuwe gedenkteken vereer swart Suid-Afrikaanse Arbeidskorps-helde uit die Eerste Wêreldoorlog
# Die ANC in KwaZulu-Natal het beloof om plaaslike werksgeleenthede te beskerm teen die sluiting van ArcelorMittal se smeltery in Newcastle. Die party se alliansie-vennote, SANCO, die SAKP en Cosatu, doen ‘n beroep op die regering, nywerhede en finansiële instellings om saam te werk en die smeltery te red om die plaaslike ekonomie te beskerm. Die ANC se provinsiale sekretaris, Bheki Mtolo, sê dis noodsaaklik om saam te werk om die smeltery in bedryf te hou en die staalsektor te beskerm:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, onderskryf die aanstelling van PwC om beweerde onreëlmatighede te ondersoek in die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se suurstofaanleg-tender van 800-miljoen-rand. Daar bestaan kommer oor die toekenning van kontrakte aan twee maatskappye wat nie by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer is nie. Die ondersoek van agt weke sal prosedurele nakoming, finansiële verliese en die aanspreeklikheid van amptenare bepaal. Macpherson sê die doel is om bestuur en openbare vertroue te versterk:
# Die Medigrow-daggaprojek van ‘n miljard-rand in die spesiale ekonomiese sone by Coega in Gqeberha begin met ‘n belegging van 100-miljoen-rand. News24 berig dit gaan hennepsaad aan 28 gelisensieerde Oos-Kaapse boere versprei en wettige daggaverbouing bevorder. Die projek is op tien-duisend-hektaar geleë en sluit die verwerking van dagga tot medisinale produkte vir uitvoer in en sal na verwagting 30-duisend werksgeleenthede skep. Dit word ondersteun deur die Oos-Kaapse regering. Die aanleg voldoen aan internasionale standaarde en is ooreenkomstig Suid-Afrika se Dagga-meesterplan om landelike ekonomieë en werkskepping te bevorder.
# Krieket: Suid-Afrika se onder-19 Vrouespan is boaan hulle groep op die T20-Wêreldbekertoernooi in Maleisië nadat hulle Nigerië volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 41 lopies geklop het. Suid-Afrika het 49 vir twee aangeteken met Simoné Lourens se bydrae 25 lopies voor reën spel ontwrig het. Nigerië moes 66 in hulle agt boulbeurte aanteken maar kon slegs 24 vir agt bymekaar skraap. Die speler van die wedstryd, Seshnie Naidu, het twee paaltjies vir een lopie laat kantel en kaptein Kayla Reyneke twee paaltjies vir 13 lopies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-528-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe gedenkteken is in die Kompanjiestuine in Kaapstad bekendgestel as ‘n huldeblyk aan een-duisend-172 swart Suid-Afrikaanse mans van die Arbeidskorps wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Dit word befonds deur die Oorlogsgrafkommissie van die Statebond en prinses Anne van Brittanje sal die inhuldiging behartig. Hierdie geskiedkundige oomblik erken opofferings wat lank oor die hoof gesien is. Die kommissie sê die projek is ‘n belangrike stap om die bydraes van swart Suid-Afrikaners tot globale konflik te vereer en hul nalatenskap te bewaar vir toekomstige geslagte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….