Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank waarsku Amerikaanse beleide kan pogings belemmer om rentekoerse te verlaag
# Cosatu versoek die Reserwebank om in te gryp by die Ithala Bank-krisis
# En, tennis: Haar goeie vriendin Paula Badosa wag op Aryna Sabalenka in die halfeindronde van die Australiese Ope
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku sekere Amerikaanse beleide kan sentrale banke se pogings belemmer om rentekoerse te verlaag deur inflasie aan te wakker. Hy het op die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos gesê die beleide, soos tariewe, het die potensiaal om disinflasie te vertraag en ‘n verskerping in monetêre beleid af te dwing. Sentrale banke wêreldwyd, insluitend in Suid-Afrika, het verlede jaar koerse begin verlaag namate inflasie afgeneem het. Suid-Afrika se koers is in November tot 7,75-persent verlaag en nog ‘n verlaging word op 30 Januarie verwag.
Cosatu versoek intussen die Reserwebank, die regering en die Nasionale Tesourie en al sy afdelings om hul regulatoriese rol baie ernstig op te neem en in te gryp by die Ithala-bank-krisis. Woordvoerder Edwin Mkhize sê die sentrale bank se Omsigtigheidsowerheid het reeds by die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, aansoek gedoen vir die voorlopige likwidasie van Ithala, omdat die agentskap vir ontwikkelingsfinansiering insolvent is:
# Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, vra die polisie om bendegebiede op die Kaapse Vlakte af te sluit. Wetstoepassingsagentskappe het die afgelope week op minstens tien vuurwapens beslag gelê en die afgelope naweek het vyf voorvalle binne 24-uur plaasgevind. Smith sê hy hoop die afsluitings sal ‘n betekenisvolle verskil maak aan wapen- en dwelmhandel in die betrokke gemeenskappe:
# Die jongste Gasmarkverslag van die Internasionale Energieagentskap waarsku oor stram globale gasmarkte vanjaar, met vraag wat die groei in aanbod oorskry. Die vraag na gas het in 2024 met 2,8-persent gestyg, aangevuur deur Asiatiese markte, maar ondergemiddelde uitset in vloeibare aardgas asook uiterste weer het die aanbod aan bande gelê. Luidens die verslag dra geopolitieke spanning by tot risiko’s, insluitend die vervoer van Russiese gas via Oekraïne. Die agentskap vra groter internasionale samewerking om gassekerheid te verbeter.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, speel in die voorlaaste ronde van die Australiese Ope teen haar boesemvriendin, Paula Badosa van Spanje. Die wêreld-nommer-een van Belarus het die eerste stel van haar kwarteindstryd teen Anastasia Pavlyuchenkova maklik gewen voor die Rus teruggeveg het om ʼn beslissende stel af te dwing, wat Sabalenka 6-3 beklink het. Die 11de-gekeurde Badosa het vroeër verras deur die wêreld-nommer-drie, Coco Gauff van Amerika, te klop om die heel eerste keer die voorlaaste ronde van ʼn Grand Slam-toernooi te bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-327-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-723-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….