Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula se korrupsiesaak word uitgestel vir gesprekke oor openbaarmaking
# Vandag is die jaarlikse sperdatum vir voorlopige belastingbetalers en trusts
# En, krieket: Suid-Afrika se onder 19-vroue boul Samoa vir slegs 16 lopies uit vir ‘n oorwinning met 10 paaltjies
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die korrupsie- en geldwasserysaak teen die voormalige speaker van die Parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, uitgestel. Hierdie vertraging is om samesprekings tussen die staat en haar regspan moontlik te maak. Haar versoek is vir verdere openbaarmakings wat korrespondensie en die ondersoekdagboek bevat. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se woordvoerder, Henry Mamothame, het bevestig haar borgtog van 50-duisend-rand is verleng tot die volgende hofverskyning:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het onthul 711-duisend-184 verkeersboetes is tydens die pasafgelope feestyd uitgereik. Oortredings het 23-duisend-607 veiligheidsgordel-oortredings ingesluit, 16-duisend-925 selfoonverwante boetes en 16-duisend-527 onpadwaardige voertuie. Daar was meer as 997 padblokkades in ‘n samewerkingspoging deur verskeie departemente. Die minister het bestuurders aangemoedig om veiliger praktyke aan te neem om botsings en sterftes hok te slaan:
# ‘n Studie deur die Navorsingseenheid oor Ontwikkelingsbeleid van die Universiteit van Kaapstad het bevind die verhoging van 8,5-persent in die nasionale minimum loon in 2024, het ‘n minimale impak op indiensneming gehad, en werksverliese en verminderde ure het werkers net effens beïnvloed. Slegs 20-persent van die 5,4-miljoen kwalifiserende werkers het egter die volle verhoging ontvang. Daarbenewens bly voldoening ‘n noemenswaardige uitdaging ondanks die loonverhoging wat beskerming bied vir lae-inkomste werkers. Die voorgestelde verhoging vir 2025 is inflasie plus 1,5-persent.
# Trusts en voorlopige belastingbetalers word daaraan herinner vandag is die sperdatum om jaarlikse belastingopgawes vir die 2024-belastingjaar in te dien. Die indieningstydperk dek 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens versoek diegene wat nog hul opgawes moet indien, om dit onverwyld te doen om boetes te vermy. ‘n Voorlopige belastingbetaler is enigiemand wat afgesien van gewone vergoeding ander inkomste verdien, terwyl trusts ook ingevolge die Inkomstebelastingwet as belastingbetalers beskou word. Hulle word versoek om hulle belastingverpligtinge na te kom om boetes en rente te vermy.
# Krieket: Suid-Afrika se Onder-19 Vroue het Wêreldbeker-geskiedenis gemaak deur Samoa in Sarawak, Maleisië, vir net 16 lopies uit te boul, die laagste beurttelling in die geskiedenis van Onder-19 T20 Wêreldbekertoernooie. Nthabiseng Nini het drie paaltjies vir net vier lopies laat kantel, Fay Cowley twee paaltjies vir vier lopies, Seshnie Naidu twee sonder om ‘n lopie af te staan en Kayla Reyneke twee paaltjies vir vyf lopies. Die aanvangskolwers Jemma Botha en Simoné Lourens het daarna die wenteiken binne tien balle bereik. Die span speel Woensdag teen Nigerië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-89-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-708-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….