Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Span SA is optimisties oor strategie vir Wêreld Ekonomiese Forum-vergadering
# AfriForum en Solidariteit begin met ‘n regsgeding teen die Bela-wet
# En, tennis: Janniik Sinner verloor eerste keer in 14 wedstryde ‘n stel
# Die uitvoerende hoof van FirstRand, Mary Vilakazi, sê dis noodsaaklik dat Suid-Afrika sy beloftes nakom om sy globale posisionering te verbeter. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, is optimisties en sê die regering en die sakewêreld stem saam aan die vooraand van volgende week se vergadering in Davos, Switserland. Vilakazi het tydens ‘n ontbyt van die Wêreld Ekonomiese Forum in Sandton gesê die Suid-Afrikaanse afvaardiging wil ‘n verenigde visie by die forum aanbied, met die fokus op vennootskappe, die uitbou van vermoëns en ekonomiese veerkragtigheid:
# Everest Wealth glo Suid-Afrikaners kan moontlike belastingverhogings in vanjaar se begrotingsrede verwag, omdat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, ‘n inkomstetekort van 22-miljard-rand moet oplos. Voorgestelde veranderinge kan ‘n welvaartbelasting, hoër BTW en die skrap van mediese belastingkrediete insluit. Die Nasionale Gesondheidsversekering kan ook druk meebring, met diegene in die middel en hoë-inkomstegroepe wat reeds swaar dra aan die belastinglas. Die uitvoerende hoof van Everest Wealth, Thys van Zyl, waarsku dit is onvolhoubaar weens swak ekonomiese groei en ‘n krimpende basis van belastingbetalers.
# AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum het met regstappe begin teen die instel van die Bela-wet. Kallie Kriel van AfriForum sê president Cyril Ramaphosa het irrasioneel opgetree toe hy die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se aanbeveling ignoreer het om die wet se taal- en toelatingsbeleide uit te stel. Hy sê die regsbriewe eis ‘n resolusie binne tien dae, of die saak sal in die hof voortgaan:
# Rwanda sê hy het die eerste keer olie ontdek met ‘n bevestigde 13 reservoirs in die Kivu-meer, wat deel uitmaak van sy grens met die Demokratiese Republiek die Kongo. Die uitvoerende hoof van die Rwandese raad vir myne, petroleum en gas, Francis Kamanzi, sê 13 verkennende boorgate bevestig daar is olie. Hy is oortuig hulle sal nog vind, gegewe die aansienlike reserwes wat deur die buurlande Uganda en die DRK oorkant die Groot Mere-streek ontdek is. Rwanda doen al meer as ‘n dekade toetse en eksplorasie-boorwerk in die Kivu-meer.
# Tennis: Wêreld nommer een, Jannik Sinner, het die eerste keer in 14 wedstryde ʼn stel afgestaan, maar het hom reggeruk om die verdediging van sy Australiese Ope-titel op koers te hou. Die topgekeurde Italianer was aanvanklik die kluts kwyt teen die Australiese promotorskeuse, Tristan Schoolkate, nommer 173 op die ranglys, maar het hom reggeruk om met 4-6, 6-4, 6-1 en 6-3 op die hoofbaan koning te kraai. Dit was sy 16de agtereenvolgende oorwinning en ʼn onheilspellende teken vir sy volgende teenstander in die derde ronde, Marcos Giron.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-236-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-705-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….