Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vroue in Stilfontein lei die stryd vir die redding van vasgekeerde mynwerkers
# Stortreën veroorsaak oorstromings by begraafplase in Johannesburg
# En, rugby: Glasgow Warriors en Racing92 begin die naweek se Kampioenebeker-aksie
# Die voorspraakgroep Mining Affected Communities United in Action sê vroue in Stilfontein in Noordwes is die leiers in die stryd om mynwerkers te red wat in die ongebruikte Buffelsfontein-goudmyn vasgekeer is. ‘n Gemeenskapslid, Zinzi Tom, het regstappe gedoen vir die staat om in te gryp en die mynwerkers te red. Die groep se woordvoerder, Magnificent Mndebele sê die mynwerkers, wat dikwels as onwettig bestempel word, staar lewensgevaarlike toestande in die gesig:
# Die onlangs gevestigde Transnet-bestuur vir Spoorinfrastruktuur gaan na sy netwerkverklaring in Desember sy eerste spoorgleuwe aan private treinoperateurs toeken. Die tussentydse uitvoerende hoof, Moshe Motlohi, het aan Engineering News gesê aansoeke sluit 7 Februarie, met suksesvolle operateurs wat oor 60 dae bekend gemaak word. Aanvanklike roetes sluit in verskeping van mangaan, ystererts en vraghouers. Motlohi sê die agterstand met instandhouding en die verkryging van befondsing kry voorrang aangesien Transnet daarna streef om teen 2030 ‘n teiken van 250-miljoen-ton te bereik.
# Die Stad Johannesburg se Parke-afdeling het ‘n beroep op families gedoen om te kyk of swaar reën tot oorstromings, erosie en die ineenstorting van grafstene in begraafplase gelei het. Gebiede wat geraak is sluit die Avalon-, Waterval-, Olifantsvlei- en Westpark-begraafplase in. Families word versoek om probleme aan te meld deur besonderhede oor die oorledene en die grafligging te verskaf. Die Parke-afdeling sê hy bied ondersteuning vir die herstel van grafte. Hy waarsku waaksaamheid is noodsaaklik met die reën wat in Maart verwag word om geliefdes se rusplekke te bewaar.
# Die visepresident van die Europese Kommissie, Kaja Kallas, sê die verkose Amerikaanse president, Donald Trump is korrek in sy beroep op NAVO-lande om hul verdedigingsbesteding te verhoog. Trump het hierdie week gesê NAVO-lande moet ten minste vyf-persent van hul bruto binnelandse produk aan verdediging bestee, wat hoër is as die huidige teiken van twee-persent. Pole het verlede jaar 4,12-persent van sy BBP aan verdediging bestee en die VSA, 3,4-persent. Kallas het aan Sky News gesê NAVO se verdediging moet versterk word:
# Rugby: Aksie in die Kampioenebeker begin vanaand om 10-uur wanneer afrigter, Franco Smith, se Glasgow Warriors tuis speel teen die Franse span, Racing92. Die Skotse span het tot dusver sewe punte uit ‘n moontlike tien behaal in hulle twee wedstryde in Europa se voorste kompetisie. ʼn Oorwinning sal hulle vir ʼn tweede agtereenvolgende veldtog so te sê verseker van ʼn plek in die uitklopfase. Vleuel Kyle Steyn voer die span aan in sy eerste verskyning in die Kampioenebeker-veldtog. Die stut van die Britse en Ierse Leeus, Rory Sutherland, begin ook die eerste keer sedert Oktober.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-884-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-577-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….