Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mandela se kleinkind onder die gearresteerde verdagtes van ‘n gekaapte voertuig
# Rusland deporteer bykans dubbel soveel migrante in 2024 as in 2023
# En, sokker: Vanaand se aksie in die Premier-sokkerliga
# Beamptes van die Taktiese Reaksie-eenheid van die Johannesburgse Metropolisiedepartement het ‘n kleinkind van oudpresident Nelson Mandela in hegtenis geneem nadat hulle ‘n gekaapte voertuig en ‘n ongelisensieerde vuurwapen by ‘n eiendom in Houghton, wat eens deur Nelson Mandela besit was, teruggevind het. Vier ander verdagtes is ook in hegtenis geneem. Woordvoerder van die departement, Xolani Fihla, sê die slagoffer van die kaping is veilig en ongedeerd:
# Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika versoek die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders om op te tree teen skole wat ongekwalifiseerde onderwysers in diens neem. Woordvoerder Basil Manuel kritiseer die praktyk en sê dit ondermyn die gehalte van onderwys. Manuel versoek die raad om onafhanklike skole te inspekteer en wette af te dwing teen die aanstelling van onderwysstudente sonder toesig. Hy beklemtoon ouers moet verseker wees van onderwysers se kwalifikasies:
# AfriForum verwelkom die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die publisering volgende week van die matriekuitslae van die matriekgroep van 2024 toelaat. Die dringende aansoek van die Inligtingsreguleerder om die publikasie te verhinder, is van die hand gewys en die hof het die reguleerder aangesê om AfriForum se regskoste te betaal. AfriForum-woordvoerder Alana Bailey sê die besluit is ‘n oorwinning vir matrikulante en vorm deel van ‘n groter bespreking oor die balans tussen privaatheid en openbare belang:
# Rusland sê hy het meer as 80-duisend migrante in 2024 gedeporteer, bykans twee keer meer as in 2023, nadat die land sy migrasiebeleid verskerp het na die terreuraanval verlede jaar in die Crocus-stadsaal. Meer as 140 mense is in Maart in die aanval op die konferensiesentrum dood, wat na bewering deur burgers van Tadjikistan uitgevoer is en waarvoor die Islamitiese Staat aanspreeklikheid aanvaar het. Die verslag vermeld nie die nasionaliteit van diegene wat gedeporteer is nie, maar die meeste migrante in Rusland is arbeiders van die voormalige Sowjetrepublieke van Sentraal-Asië.
# Sokker: Kaizer Chiefs is tans in die sewende plek in die Premier Sokkerliga en speel vanaand in die FNB-stadion in Johannesburg teen die span in die vyfde plek, Stellenbosch FC. Ondersteuners verwag vordering onder die Tunisiese afrigter, Nasreddine Nabi. Met Nabi in beheer het Chiefs vyf oorwinnings, drie gelykopuitslae en vyf nederlae in alle kompetisies behaal. Afskop is om 7:30. In ander wedstryde vanaand om dieselfde afskoptyd, speel die tweede geplaasde Orlando Pirates weg teen Cape Town City en AmaZulu pak Sekhukhune United.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-161-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….