Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onderwysdepartement sê die hofaansoek om publikasie van matriekuitslae te keer, is nie dringend nie
# ActionSA kritiseer Steenhuisen vir die gebruik van ‘n luukse bloulig-vloot
# En, rugby: Kampioene- en Uitdaagbeker-aksie vir SA spanne dié naweek
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die dringende aansoek van die Inligtingsreguleerder om die publikasie van matriekuitslae te verhinder, is nie werklik dringend nie. Die uitslae word volgende week in Pretoria bekend gemaak, maar die hofstryd duur in die Hooggeregshof in Pretoria voort oor die balans tussen privaatheid en openbare toegang. Die Hof het aangekondig hy sal môreoggend beslis of die saak sal voortgaan. Die departement se regsverteenwoordiger, Marius Oosthuizen, het aan die hof gesê reguleerder het sy eie dringendheid geskep:
# Die Valke het nog twee verdagtes gearresteer vir die moord op ‘n polisiebeampte, Callan Andrews. Die verdagtes word ook aangekla vir die roof van sy dienspistool op 31 Desember. Andrews, verbonde aan die Gelvandale-polisiestasie, is noodlottig geskiet toe hy ‘n klagte in Katanga bygewoon het. Beamptes het aanvanklik ‘n 18-jarige in hegtenis geneem, maar hy is vrygelaat weens onvoldoende bewyse. Die 27-jarige verdagtes sal môre in die Gelvandale-landdroshof verskyn. Nog ‘n 17-jarige verdagte het reeds gister in die hof verskyn.
# ActionSA beskuldig die minister van Landbou, John Steenhuisen, daarvan dat hy ‘n vloot luukse bloulig-sportnutsvoertuie gebruik, wat elk meer as een-miljoen-rand kos. ActionSA-woordvoerder, Dereleen James, sê dit is in stryd met die openbare uitlatings van die federale voorsitter van die DA, Helen Zille, dat hulle nie ten gunste is van bloulig-byvoordele vir enige DA-minister nie. ActionSA kritiseer die uitspattigheid te midde van armoede en sê dit is bewys van ‘n verkwistende regering van nasionale eenheid wat byvoordele bo landsburgers se probleme stel:
# Die dodetal in die 7,1-aardbewing in ‘n afgeleë streek van Tibet, het tot minstens 95 gestyg. Die aardbewing het huise in afgeleë Himalaja-dorpies vernietig, ‘n nabygeleë Tibetaanse heilige stad beskadig en besoekers aan ‘n berg Everest-basiskamp geruk. Plaaslike owerhede sê minstens 130 mense is in die aardbewing beseer, met skuddings wat tot in die hoofstad van Nepal, Katmandu, gevoel is. Die naaste groot stad aan die episentrum is die heilige stad Shigatse, die tuiste van die tweede hoogste geestelike leier in Tibetaanse Boeddhisme.
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne sit dié naweek die bal aan die rol met aksie in die Kampioene- en Uitdaagbeker. In die Kampioenebeker kom die Haaie Saterdag in Durban teen die verdedigende kampioene, Toulouse, te staan. Die Stormers moet na twee nederlae teen die Sale Sharks in Kaapstad wen. Die Bulle is in dieselfde bootjie en het ‘n wegwedstryd teen Castres in Frankryk. In die Uitdaagbeker speel die Leeus teen Montpellier in Frankryk en die Cheetahs speel Sondag teen Zebre in Amsterdam.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 29-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-754-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….