Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse Vervoerdepartement teken 202 Desember-padsterftes aan
# Krieket: Kwena Maphaka word die jongste SA toetsspeler in die tweede toets teen Pakistan
# En, navorsing toon ‘n enkele sigaret kan ‘n mens se lewensverwagting met 20-minute kortknip
# Die Oos-Kaapse Vervoerdepartement het in Desember 202 padsterftes aangeteken. Nalatigheid en dronkbestuur was die hoofoorsake. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê daar was gedurende hierdie tyd meer as 500 arrestasies vir dronkbestuur, en ongelukke snags was bykans 38-persent van alle noodlottige voorvalle. Hy versoek motoriste om hulle roetes vooraf te beplan en om nie snags te bestuur nie aangesien terugkerende verkeer na die vakansie toeneem:
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad sê Suid-Afrika se landbou-uitvoere na Europese Unie-lande is gereed om aansienlike veranderings te ondergaan weens die streng omgewings- en volhoubaarheidsvereistes, ingevolge die EU Green Deal. Die Raad se woordvoerder, Mashao Mohale, sê hoewel die EU ‘n belangrike handelsvennoot bly, wat verantwoordelik is vir aansienlike groei in uitvoere, is voldoening aan die Green Deal se klousules noodsaaklik om toegang tot hierdie mark te behou:
# Die Palestynse Sentrale Statistieke-buro berig daar is weens die voortslepende konflik ‘n vermindering van ses-persent in Gaza se bevolking. Dit verteenwoordig sedert 7 Oktober 2023 160-duisend mense, van wie 55-duisend vermoedelik dood is en elf-duisend verplaas. Die buro beraam die bevolking nou op 2,1-miljoen, ‘n aansienlike daling van die getal voor die oorlog. Human Rights Watch beweer verder ʼn onbekende aantal sterftes was die gevolg van wanvoeding, ontwatering en siekte weens optrede deur Israelse owerhede. Die Internasionale Strafhof het lasbriewe vir inhegtenisneming oor beweerde oorlogsmisdade uitgereik teen Israelse amptenare.
# Krieket: Die 18-jarige Kwena Maphaka maak môre sy toetsbuiging in die tweede toets teen Pakistan op Nuweland in Kaapstad. Hy is op 18 jaar en 271 dae Suid-Afrika se jongste toetsspeler na draaibouler Paul Adams. Die veelsydige Wiaan Mulder is terug in die span asook draaibouler Keshav Maharaj. Hulle vervang die beseerde kolwer, Tony de Zorzi, en die veelsydige Corbin Bosch, wat ʼn droombuiging in sy eerste toets gemaak het. Maphaka vervang snelbouler Dane Paterson.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-745-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-50-sent per vat.
# Ten slotte: Indien dit ‘n Nuwejaarsvoorneme is om op te hou rook, kan dit dalk help om te weet nuwe navorsing toon dit kan jou lewensverwagting verleng. Navorsing in Brittanje het bevind elke sigaret wat gerook word, kan sowat 20 minute van ‘n mens se lewensverwagting kortknip. Navorsers sê ‘n pakkie van 20 sigarette kom neer op byna sewe ure se lewensverlies per pakkie, en mense wat hul lewe lank rook, verloor ongeveer tien jaar van hulle lewe. Die navorsing sê dit is nooit ‘n goeie tyd om te begin rook nie, maar die beste tyd om op te hou is nou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….