Nuus 16:00
BULLETIN 27 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM moedig die regering aan om tydelike vlugtelingstasies langs die Mosambiekse grens op te rig
# Duitsland ontbind sy Parlement en bevestig ‘n vroeë verkiesingsdatum
# En, rugby: Die Stormers bring drie veranderinge aan vir die botsing met die Haaie
# ATM moedig die oprigting aan van tydelike stasies langs die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek om Mosambiekers te help wat vlug voor die geweld. Woordvoerder Zama Ntshona sê die stasies moet toegerus wees om die vlugtelinge te registreer en te huisves in dié ontstuimige tyd, met die Leër, die polisie en Grensbeheer wat sekerheidpogings op die grens versterk:
# Die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum vra van sy ander nie-regeringsvennote om te help met humanitêre verligting terwyl brande steeds aangemeld word in informele nedersettings. Woordvoerder Sonica Lategan sê strukturele brande bly ‘n groot bron van kommer in die metro. Sy moedig inwoners aan om soveel moontlik te doen om die gevare van brande in hulle huise of gemeenskappe teen te werk:
# President Frank-Walter Steinmeier het Duitsland se Parlement ontbind en die verwagte datum vir ‘n vroeë algemene verkiesing bevestig na verlede maand se ineenstorting van Olaf Scholz se regering. Scholz se koalisie is gekelder deur interne gevegte oor hoe om Europa se grootste ekonomie te laat herleef, maar ‘n dodelike motoraanval op ‘n Kersmark verlede week het heftige debatte laat opvlam oor sekerheid en immigrasie. Steinmeier het 23 Februarie bevestig as verkiesingsdatum en die behoefte aan politieke bestendigheid beklemtoon. Hy vra ‘n respekvolle en ordentlike verkiesingsveldtog.
# Rugby: Die heelagter Warrick Gelant speel môre in sy 50ste wedstryd vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskapkragmeting met die Haaie in Kaapstad. Daar is drie veranderings aan die wedstrydgroep wat verlede week ‘n belangrike oorwinning oor die Leeus behaal het. Die beseerde Leolin Zas word op linkervleuel vervang deur Seabelo Senatla, terwyl die voorspelers André-Hugo Venter en Ruben van Heerden ingesluit is onder die plaasvervangers vir die laaste wedstryd van die jaar. Die kragmeting skop vyf-uur af en ‘n skare van 40-duisend word verwag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-688. Die prys van goud is twee-duisend-628-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-33-sent.
# En ten slotte: Navorsers van die Sol Plaatje-universiteit stel ‘n maatskaplike toelaag van vier-duisend-rand voor as verligting van die uiterste armoede in Suid-Afrika. Die toekenning, wat 25-miljoen-mense teiken, sal jaarliks ongeveer 115-miljard-rand kos. Die navorsing dui verder aan om die toelae aan werk of deelname aan openbare programme te koppel, kan die bruto binnelandse produk met 0,5-persent verhoog en die druk van inflasie effens verminder. Die voorstel, wat ontwerp is met ‘n begrotings-neutrale befondsingsmodel, het ten doel om uiterste armoede uit te roei en ekonomiese deelname aan te moedig onder die land se armste burgers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….