Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Lugmag beëindigdie die Kubaanse opleidingsprogram vir kadette
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore Bevon Jacobs kan sy buiging vir Nieu-Seeland maak in die T20-reeks teen Sri Lanka
# En, die krokodil van die treffer-rolprent Crocodile Dundee is dood
# Die Suid-Afrikaanse Lugmag het sy vlugopleidingsprogram vir kadette in Kuba beëindig weens die onversoenbaarheid met plaaslike vereistes. Die Lugmag bevestig ook dis gestaak weens bedryfsuitdagings en finansiële beperkings. Daarbenewens is verwagte bevorderings en die toekenning van vlerkies weerhou, wat kadette sonder vordering gelaat het. Diegene wat in Kuba opgelei is, moet nou hulle vliegopleiding in Suid-Afrika herhaal. Die program is gekritiseer oor die gebruik van Russiese vliegtuie en leermateriaal wat nie ooreenstem met Suid-Afrikaanse situasies nie.
# Die Referendum-party sê die besluit om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette ten volle in werking te stel, is uiters betekenisvol. Die party se leier, Phil Craig, sê dit bevestig wat die party reeds vermoed het, naamlik dat die regering van nasionale eenheid ‘n rubberstempel vir ANC-beleide geword het. Hy sê dit hou ernstige gevolge in, wat baie verder strek as slegs BELA. Craig sê die ANC gaan voort om sy eie ekonomiese beleid in te stel, hy storm volspoed voort met die Nasionale Gesondheidsversekering, en brei rasgegronde beleidmaking uit:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Mororeo, het die suksesvolle oplossing van die onlangse kontraktuele geskil met die diensverskaffer Afrirent aangekondig. Die stad se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê dit maak die hervatting moontlik van belangrike dienste wat die Metropolisie lewer. Hy sê Afrirent se hok van voertuie was nie te wyte aan ‘n versuim om betalings te maak nie, maar eerder die gevolg van administratiewe ondoeltreffendheid:
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore kolwer Bevon Jacobs kan sy buiging vir Nieu-Seeland maak nadat hy die eerste keer vir sy aangenome land opgeroep is vir drie T20’s teen Sri Lanka. Die 22-jarige speel sedert verlede jaar vir Canterbury en ook volgende jaar in die Indiese Premierliga vir Mumbai Indians. Dit volg na sy indrukwekkende vertoning in die Super Smash, waar hy 134 lopies in ses kolfbeurte aangeteken het. Die nasionale keurder, Sam Wells, sê Jacobs is ‘n belowende, hoogs begaafde speler wat internasionale blootstelling verdien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-95-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-617-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die legendariese krokodil Burt, wat in die treffer-rolprent Crocodile Dundee gespeel het, is dood. Personeel van Crocosaurus Cove in Australië, waar Burt sedert 2008 aangehou is, sê hy het vreedsaam gevrek. Hy was na raming ouer as 90, ver bo die gewone lewensverwagting. Burt is die eerste keer in die 1980’s gevang, en het net voor Kersfees 1986 saam met Paul Hogan in die rolprent verskyn. Die dieretuin sê sy dood is ‘n herinnering aan die belangrike rol wat natuurlewe speel en hoe belangrik dit is om hierdie diere vir toekomstige geslagte te bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….