Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Opgradering van pypleidings sal stralerbrandstofstelsels teen 2025 versterk
# ‘n Fransman word tot 20-jaar gevonnis omdat hy tientalle mans genooi het om sy vrou te verkrag
# En krieket: Andrew Flintoff se tienerseun toer volgende maand saam met die Engelse Leeus in Australië
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika is besig om sy stralerbrandstofstelsels op te gradeer met ‘n nuwe pyplyn en verbypad, wat teen volgende jaar voltooi sal wees. Dit het ten doel om die stelsel bestendig te kry en toekomstige voorvalle te voorkom, soos die onlangse stralerbrandstoftekort op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng. ACSA se uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, sê die projek is deel van ‘n breër infrastruktuurplan van 21,7-miljard-rand, wat die vervanging van verouderde onderdele en die instel van veiligheidsmaatreëls insluit:
# Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het ‘n toename in die voorkoms van Duitse masels regoor Suid-Afrika aangeteken, hoofsaaklik by kinders onder tien jaar en swanger vroue. Die simptome sluit in koors, uitslag, rooi oë en hoes. Volgens die instituut verhoog dit risiko’s vir swanger vroue, veral in die eerste trimester, aangesien blootstelling kan lei tot ernstige geboorte-afwykings. Die Departement van Gesondheid het intussen inenting teen die siekte vir kinders van ses en nege maande ingestel.
# Die National Men’s Forum sê Suid-Afrika bly ‘n gewelddadige land weens geslagsgeweld. Woordvoerder Tebogo Lerole het aan eNCA gesê om mans te betrek is die sleutel tot die vermindering van geslagsgeweld en vrouemoord. Lerole erken die rol van die gemeenskap om by te dra tot die uitwissing van geslagsgeweld en versoek mans om aanspreeklikheid te aanvaar:
In Frankryk is Dominique Pelicot skuldig bevind in ‘n massaverkragtings-verhoor wat die land verstom het. Hy is ‘n maksimum vonnis van 20-jaar tronkstraf opgelê omdat hy sy destydse vrou, Gisèle, ‘n dekade lank herhaaldelik verkrag, bedwelm en vreemdelinge genooi het om haar ook te misbruik. Al 51 beskuldigdes is skuldig bevind, maar van hulle het korter vonnisse ontvang as waarvoor aanklaers gevra het. Gisèle het vroeër haar naam bekend gemaak in ‘n poging om ander vroue te help en ‘n verandering in die samelewing af te dwing.
# Krieket: Die tienerseun van die voormalige Engelse legende Andrew Flintoff, Rocky, verteenwoordig die Engelse Leeus op hulle toer deur Australië vanaf volgende maand. Die 16-jarige veelsydige speler het vroeër vanjaar sy eerste beroepskontrak met Lancashire onderteken en daarmee die klub se jongste speler ooit geword. Hy was ook die jongste wat ‘n honderdtal vir Engeland se Onder-19-span kon aanteken. Sy pa het Engeland vanaf 1998 tot 2009 in 79 toetse, 141 eendagwedstryde en sewe T20’s verteenwoordig en is tans ʼn aanbieder op televisie en radio.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-338-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-614-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….