Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Digitale dagvaardings kan nou uitgereik word om finansiële misdaad te bekamp
# China vra sy elektriese voertuigvervaardigers om in Suid-Afrika te belê
# En, kanovaart: 2025 se Dusi keer terug na sy oorspronklike wegspringplek by Camps Drift
# Suid-Afrikaanse ondersoekers na finansiële misdaad kan nou digitaal dagvaardings vir bankrekords uitreik, danksy die Digitale Dagvaardingstelsel ingevolge Artikel 205. Dis ‘n gesamentlike projek van die Valke, die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum en die Biokinetikavereniging van Suid-Afrika en vergemaklik toegang tot bankrekords, wat ondersoeke bespoedig. Die program het in Gauteng afgeskop. Dit is in ooreenstemming met globale standaarde, en sal volgende jaar landwyd toegepas word. Verbeterde opleiding, die jongste toerusting en veilige netwerke vir kommunikasie sal die duur van ondersoeke verkort, en geldwassery en finansiering van terrorisme vinniger in die kiem smoor.
# President Cyril Ramaphosa vra sterker handels- en beleggingsbande tussen Suid-Afrika en Angola. Hy het tydens die Angolese president, João Lourenço, se staatsbesoek gesê beide lande moet nuwe ekonomiese geleenthede buiten die oliesektor ondersoek, veral op gebiede soos infrastruktuur, landbou en hernubare energie:
China het sy elektriese voertuigvervaardigers intussen aangemoedig om bedrywighede in Suid-Afrika uit te brei om bilaterale bande te versterk. Die ambassadeur, Wu Peng, het die potensiaal vir Chinese ondernemings beklemtoon om plaaslik monteerlyne te vestig, alhoewel marktoestande die sleutel bly. Business Tech berig China kan die geleenthede in die land se motorbedryf raaksien wat verlede jaar goedere van meer as 271-miljard-rand uitgevoer het. Die Suid-Afrikaanse regering beplan belastingaansporings vir elektriese voertuig-vervaardiging, terwyl Chinese firmas ook samewerking in energie, infrastruktuur en minerale beoog.
# Kanovaart: Volgende jaar se Dusi-marathon in KwaZulu-Natal keer terug na die oorspronklike wegspringplek by Camps Drift in Pietermaritzburg, maar gebeurlikheidsplanne is beraam in die geval van swak watergehalte. Die organiseerders sê ondanks die uitdagings sal hulle roeiers steeds die kans kan bied om aan die gewilde wedvaart deel te neem. Hulle sê die Dusi sal altyd die mees ikoniese wedvaart in Suid-Afrika bly, en beloof om sy erfenis vol te hou. Dit vind plaas van 20 tot 22 Februarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-589-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: BetterBond se eiendomsamevatting vir Desember toon ‘n kwartaallikse styging van 11,5-persent in aansoeke om huislenings gedurende Oktober en November, en ʼn jaarlikse styging van 22,6-persent. Die nasionale hoof van verkope, Bradd Bendall, verwelkom die vereiste gemiddelde deposito van 7,8-persent en ‘n daling van tien-persent in koerse vir eerstekeer-kopers op ‘n jaargrondslag. Hy is optimisties oor verhoogde markbedrywighede in 2025:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….