Nuus 16:00
BULLETIN 14 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom die ondersoek na die Regerings-pensioenadministrasie-agentskap se huurkontrak van ‘n miljard-rand
# Brittanje se ekonomie presteer bo verwagting in die tweede kwartaal
# En rugby: Fassi ontpop as ‘n nuwe stelskopper vir die Bokke
# Cosatu het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit verwelkom om ondersoek in te stel na die huur van ‘n gebou deur die Regerings-pensioenadministrasie-agentskap vir bykans ‘n miljard-rand. Die agentskap administreer fondse vir die Staatsdiens-pensioenfonds ten bate van 1,7-miljoen werkers en pensioentrekkers. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela sê die agentskap het die kontrak vir die huur van sy hoofkantoor toegeken aan ‘n maatskappy wat nie die gebou besit of toegang daartoe het nie:
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, vra koöperasies en entrepreneurs om deel te neem aan die eerste fase van die Nasionale Dialoog wat môre in Pretoria begin. Dit volg na die onttrekking van nalatenskapstigtings, insluitende die Thabo Mbeki- en die FW de Klerk-stigting, en groepe soos AfriForum en Solidariteit oor befondsing- en deursigtigheids-bekommernisse. Die minister het aan SABC News gesê dat klein sakeondernemings moet help om Suid-Afrika se toekoms met hulle kennis en visie te vorm:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die visie vir die Suid-Afrikaanse motornywerheid is gesetel in gesamentlike welvaart. Hy het op die Nasionale Vereniging van Onderdele- en Verwante Vervaardigers se tentoonstelling in Gqeberha in die Oos-Kaap beklemtoon dat volhoubare ontwikkeling alle gemeenskappe moet bevoordeel. Mashatile het na die land se geskoolde werksmag en geskiedenis van vernuwing verwys, en gevra vir inklusiewe sakemodelle om groei te bevorder en vir eenheid met die bou van ‘n nalatenskap van geleenthede:
# Brittanje se ekonomie het bo verwagting presteer in die tweede kwartaal, nadat dit die uitwerking van Amerikaanse tariewe en ‘n hoër sakebelasting moes absorbeer. Die bruto binnelandse produk het met 0,3-persent gegroei in die tydperk van April tot Junie, wat ontleders se voorspellings van 0,1-persent oortref het, nadat dit 0,7-persent in die eerste kwartaal bereik het. Die minister van Finansies, Rachel Reeves, sê die syfers is positief met ‘n sterk begin vir die jaar en voortgesette groei in die tweede kwartaal, maar daar moet meer gedoen word om ‘n ekonomie te lewer wat vir werkende mense werk.
# Rugby: Die Springbok-heelagter Aphelele Fassi sien uit na die geleentheid om stelskoppe by sy arsenaal te voeg in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Johannesburg. Hy sal moontlik die skop-verantwoordelikhede met die losskakel Manie Libbok deel, wat die enigste ander erkende stelskopper in die groep is. Fassi sê hy oefen nou al geruime tyd hierdie deel van sy spel. Hy verwag ‘n fisieke kragmeting, maar glo dat die Bokke slegs hulle strukture moet handhaaf wanneer hulle met die verdediging van hulle titel op Ellispark begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-en-25-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….