Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die G20-presidentskap is ‘n geleentheid om ‘n beter Afrika en wêreld te bou
# Departement wil meer as ‘n miljoen-rand van oorsese amptenare verhaal vir skade aan huureiendomme
# En, tennis: Italië gaan die Davisbeker-eindtoernooi die volgende drie jaar aanbied
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se G20-presidentskap bied ‘n geleentheid om globale ekonomiese groei, volhoubare ontwikkeling en die behoeftes van Afrika en die Globale Suide te bevorder. Die G20-leiersberaad word in November volgende jaar in Johannesburg aangebied, en sal Suid-Afrika se leiersrol verder verstewig. Ramaphosa sê die presidentskap poog om Afrika se voorkeure na vore te bring en globale vennootskappe te versterk vir ‘n beter toekoms:
# Die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking probeer om meer as ‘n miljoen-rand van amptenare oorsee te verhaal vir skade aan huur-eiendomme. Die departement het die afgelope vyf jaar 1,3-miljoen-rand se verliese gely waarvan slegs 200-duisend verhaal is. News24 berig 33 tugsake is aangemeld, maar slegs twee amptenare is geskors. Die grootste verlies van meer as 600-duisend-rand was in die 2023/’24-boekjaar. Die departement gaan voort met pogings om die uitstaande geld terug te kry.
# Nigerië versoek Suid-Afrika se hulp om mynkundiges op te lei en sy wêreldwye mededingendheid te verbeter. Die Nigeriese minister van Buitelandse Sake, Bianca Odumegwu-Ojukwu, het tydens die elfde Suid-Afrika-Nigerië bi-nasionale kommissie in Kaapstad ‘n konsep-ooreenkoms van verstandhouding vir oorweging voorgelê. Sy sê die dokument getuig van die sterk bilaterale betrekkinge tussen die twee lande:
# Tennis: Italië is vanaf volgende jaar tot 2027 bevestig as gasheer van die Davisbeker-eindtoernooi. Die Internasionale Tennisfederasie het die aankondiging gedoen nadat Málaga in Spanje die mans-spantoernooi sedert 2022 aangebied het. Volgende jaar se toernooi sal in Bologna plaasvind. Die ITF sê Italië het ‘n ryk geskiedenis in die sport en ʼn bewese vermoë om sportbyeenkomste van wêreldgehalte aan te bied. Die wêreld nommer een, Jannik Sinner, het die land verlede maand tot ʼn tweede agtereenvolgende Davisbeker-titel aangevoer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-878-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie deur die voorspraakgroep Transport and Environment, gebaseer in Brussel, België, het aan die lig gebring die meeste lugrederye skiet tekort met die verandering na volhoubare stralerbrandstof. Volgens die verslag verteenwoordig volhoubare stralerbrandstof, wat afkomstig is van stowwe soos stukkies hout en gebruikte kookolie, slegs een-persent van die wêreldwye stralerbrandstofverbruik. Hoë koste en beperkte belegging deur olie-ondernemings is die grootste struikelblokke. Die verslag dui aan 87-persent van lugrederye bly aansienlik agter, wat uitstralingsdoelwitte in gevaar stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….