Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padongelukkefonds verhoed 65-miljoen-rand se bedrieglike eise
# AfriForum sê aan ‘n VN-forum rassewetgewing ondermyn gelykheid
# En, sokker: ‘n Omstrede Engelse skeidsregter word weer ondersoek
# Die Padongelukkefonds het oor drie jaar bedrieglike eise van 65-miljoen-rand voorkom en twee-duisend-en-31 sake afgekeur. Onlangse suksesse sluit in ‘n vonnis van vyf jaar vir Siyabulela Kima oor ‘n vals eis van 8,3-miljoen-rand. Die uitvoerende hoof van die fonds, Collins Letsoalo, beklemtoon samewerking om bedrog te voorkom en dienste te beskerm:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê ten spyte van verbeterings in die regering se oudituitkomste, is daar steeds nie-nakoming in openbare besteding. Die Ouditeur-Generaal se jongste verslag toon 35-persent regerings-instellings het skoon oudits behaal, maar 32-persent het versuim om kwessies soos onreëlmatige en verkwistende uitgawes aan te meld. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê sleuteldepartemente, soos die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds, lewer steeds swak oudit-uitslae en vertraag belangrike dienste. Duvenage versoek strenger toepassing van finansiële beheermaatreëls om voortdurende wanadministrasie hok te slaan.
# Die GOOD-party waarsku oor ‘n dreigende omgewingskrisis in Kaapstad ná die opskorting van kuswater-afvoerpermitte vir watersuiweringsaanlegte. Die party sê dit kan beteken dat onbehandelde riool in riviere, mere en kusgebiede vloei, wat besoedeling en gesondheidsgevare sal vererger. Kaden Arguile van die party doen ‘n beroep vir dringende optrede deur die plaaslike én nasionale regerings om die situasie aan te pak voor dit vererger en in ‘n gesondheidsramp ontaard:
# AfriForum sê wette soos die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Gelyke Indiensneming het ongelykheid verhoog en minderheidsgemeenskappe uitgesluit van ekonomiese bedrywighede. Alana Bailey van die burgerregtegroep het gepraat op die Verenigde Nasies se forum oor sake-en-menseregte in Genève, wat vandag tot ‘n einde kom. Sy doen ‘n beroep vir hervorming, wat beëindigingsklousules en breër bemagtigingsaansporings insluit, om regverdigheid en ekonomiese groei te bevorder:
# Sokker: Die Engelse beheerliggaam ondersoek nog ‘n bewering teen die omstrede skeidsregter, David Coote. Hy het glo voor die begin van ʼn wedstryd die moontlikheid bespreek om ʼn geelkaart aan ʼn speler te gee. Die Vereniging vir Beroeps-wedstrydbeamptes en die Europese beheerliggaam, UEFA, het Coote reeds geskors nadat hy neerhalende opmerkings gemaak het oor die voormalige hoofafrigter van Liverpool, Jürgen Klopp, en nadat ʼn video opgeduik het waarin hy ʼn wit poeier snuif. Volgens Coote sal sy persoonlike lewe nooit sy besluite op die veld beïnvloed nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-272-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-653-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….