Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakevertroue is op sy beste vlak sedert die tweede kwartaal van 2021
# Tennis: Italië en Slowakye pak mekaar in die eindstryd van die Billie Jean King-bekertoernooi
# En “manifest” is die Cambridge-woordeboek se woord van die jaar
# Die RMB/BER Sakevertroue-aanwyser het in die vierde kwartaal van 2024 tot 45 indekspunte gestyg, teenoor 38 in die derde kwartaal. Dit is die derde opeenvolgende styging, wat dit nou byna 20 punte bo die tweede kwartaal van 2023 plaas. Vertroue is nou op sy beste vlak sedert die tweede kwartaal van 2021. Die styging in die aanwyser was breedvoerig, met nuwe voertuighandelaars die enigste van die vyf subsektore wat ‘n afname getoon het. Groothandel-, kleinhandel- en boukontrakteurs se vetroue is bo die neutrale punt van 50.
Die DA verwelkom intussen die jongste inflasiesyfer wat in Oktober tot 2,8-persent gedaal het, en noem dit ‘n teken van ekonomiese bestendigheid. Die party sê egter talle lae-inkomste burgers sukkel steeds met hoë pryse. Die party versoek die Tesourie om geteikende belastingverligtings-maatreëls in te stel, insluitend die uitbreiding van die lys voedselitems wat van BTW vrygestel is. Wendy Alexander van die DA glo dit sal die finansiële las op kwesbare huishoudings verlig, armoede verminder en gesinne help om koste meer doeltreffend te bestuur:
# Die MK-party het planne aangekondig om sy eerste bestaansjaar te vier met ‘n groot openbare saamtrek op die Moses Mabhida-stadion in Durban op 15 Desember. Party-leier Jacob Zuma sal ‘n toespraak lewer. Die party se hoofkwartier in Johannesburg gaan teen die einde van hierdie maand oopmaak en die Durbanse kantoor teen volgende maand. Die party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, het op ‘n nuuskonferensie gesê ‘n gala-dinee sal op 16 Desember gehou word:
# Tennis: Italië en Slowakye pak mekaar vanmiddag in die eindstryd van die Billie Jean King-bekertoernooi in Málaga, Spanje. Italië, verlede jaar se naaswenner, het Pole in die halfeindronde 2-1 verslaan, terwyl Slowakye met dieselfde telling teen Groot-Brittanje gewen het. Die wêreld-nommer-vier, Jasmine Paolini, lei Italië se aanslag. Die ander lede is haar Olimpiese goue medalje-dubbelspelmaat, Sara Errani, asook Elisabetta Cocciaretto, Martina Trevisan en Lucia Bronzetti. Rebecca Sramkova, wat tans 43ste op die wêreldranglys is, is Slowakye se beste speler. Die wenner sal prysgeld van 43,5-mijoen-rand ontvang.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-674-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: “Manifest” is die Cambridge-woordeboek se woord van die jaar vir 2024. Dit het het baie gewild geraak op sosiale media en is vanjaar amper 130-duisend keer op die Cambridge Dictionary se webwerf gesoek. Leksikograwe sê die term – om te manifesteer – het intussen ontwikkel om te beteken as mense hulle voorstel hulle sal iets bereik wat hulle wil hê, sal dit waarskynlik gebeur. Die woordeboek se uitgewers sê dit wys hoe die betekenis van ‘n woord met verloop van tyd kan verander. Verlede jaar se woord was “hallucinate”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….