Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke beloof optrede om die boubedryf-mafia vas te vat en orde te herstel op bouterreine
# ‘n Verslag voorsien bestendige kragvoorsiening vir Suid-Afrika tot 2029
# En, sokker: Bafana Bafana speel teen Suid-Soedan in sy laaste kwalifiseerder vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, onderneem om sterk op te tree teen die boubedryf-mafia wat ontwrigting op boupersele veroorsaak. Die minister lei die nasionale boubedryf-beraad in Durban wat handel oor ontwrigtings en geweld op persele, en om vertragings met projekte weens misdadigheid, te verminder. Macpherson bepleit ‘n gesamentlike poging deur die regering, die privaat sektor en die polisie om orde te herstel sodat projekte sonder die bedreiging van afpersing kan voortgaan:
# Die tiende Nasionale Omgewingsnakoming en Afdwinging-Lekgotla het by die uKhahlamba-Drakensberg-erfenisterrein in KwaZulu-Natal begin. Die Groen Skerpioene sal aandag skenk aan transnasionale omgewingsmisdaad en die landwye versterking van nakomingsmaatreëls. Die hoofdirekteur van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Frances Craigie, sê daar sal ook gekyk word na maatreëls om plaagdoders te beheer nadat leerders in die hospitaal beland het, en sterftes aangemeld is weens voedselvergiftiging wat van spaza-winkels afkomstig was:
# ’n Verslag deur die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika voorsien Suid-Afrika se elektrisiteitstelsel is voldoende tot 2029 en kragonderbrekings is beëindig met Eskom se regrukaksie. Moneyweb berig die beskikbaarheidsfaktor van Eskom-energie het in die eerste helfte van 2024 tot 63-persent verbeter, vanaf 55- persent in 2023. Vertragings by groot steenkooleenhede, soos Medupi en Kusile kan egter die stelsel negatief beïnvloed. Eskom het ook uitdagings om oortollige energie te bestuur weens die toenemende hernubare vermoë en ‘n beplande steenkoolafsluiting in 2029.
# ‘n Hoëspoedspoordiens word tussen Gauteng en Limpopo ontwikkel. Dit begin met ‘n verbinding tussen Pretoria en Polokwane, met moontlike uitbreidings na Louis Trichardt en Musina. Die spoorlyn van 420-kilometer wil verkeer verminder, toerisme aanvuur en ekonomiese bande versterk. Volgens die tydskrif Gateway sal dit ook ‘n regstreekse korridor na Zimbabwe skep. Gesamentlike toerisme-veldtogte, waaronder ‘n gholfroete, word beplan. Die projek se meesterplan sal na verwagting teen einde volgende jaar voltooi wees.
# Sokker: Bafana Bafana speel hulle eerste amptelike wedstryd in nege jaar in Kaapstad wanneer hulle wedstryd teen Suid-Soedan vanaand 6-uur afskop. Dit is hulle laaste kwalifiseerder vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi, hoewel hulle reeds gekwalifiseer het. Meer as 40-duisend kaartjies is vir die Kaapstad-stadion verkoop en daar word verwag dit sal voor die afskop uitverkoop. Dit is ʼn heuglike geleentheid vir kaptein Ronwen Williams, want dit is sy 50ste wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-139-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-633-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….