Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rehabilitasieprojek in Lilian Ngoyi-straat in Johannesburg is ‘n jaar na die ontploffing slegs 22-persent voltooi
# Namibië se toerismebedryf kan finansieel agteruitgaan weens lae besoekertalle
# En, rugby: Die Bokke verwag ‘n heeltemal ander soort toets teen Engeland nadat hulle Skotland klop
# Die Johannesburgse metro het bevestig die Lilian Ngoyi-straat-rehabilitasieprojek in die middestad is ‘n jaar na die verwoestende ontploffing slegs 22-persent voltooi. Die burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene, sê die projek het tot stilstand gekom met rampspoedige gevolge vir padgebruikers, ondernemings en inwoners. Tot dusver is meer as 17-miljard-rand bestee uit die totale bedrag van 180-miljoen-rand wat vir die afhandeling van die projek begroot is. Kunene het aan die SABC gesê die projek het tot stilstand gekom weens kwessies met kontrakteurs:
Die Stad Johannesburg het ook erken hy het nie reageer op die DA se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting nie, as gevolg van kommer oor die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting. Die DA het City Power gekritiseer oor beweerde wanbestuur te midde van Eskom se dreigement om die krag af te sny weens 6,3-miljard-rand se skuld. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, gaan met stadsleiers en Eskom vergader weens toenemende kommer oor deursigtigheid.
# Die Namibiese Gasvryheidsvereniging sê die toerismebedryf in die land kan finansieel aansienlik agteruitgaan met ‘n afname van tot 30-persent in sommige sektore. Die afswaai hou verband met stygende misdaadsyfers, insluitend rooftogte wat toeriste teiken, en kommer oor grondhervorming. Die vereniging se woordvoerder, Gitta Paetzold, sê ondernemings in Swakopmund ondervind reeds verliese van tot 45-persent en daar is vrese die situasie kan volgende jaar vererger:
# Sowat 100 wêreldleiers en staatshoofde word môre en Woensdag in Baku verwag vir die Verenigde Nasies se COP29-klimaatsberaad, te midde van waarskuwings dat 2024 rekordtemperature gaan aanteken. Minder leiers reis na die hoofstad van Azerbeidjan as wat COP28 in Dubai bygewoon het of die vorige een in Glasgow in 2021. Net vier G20-leiers van die wêreld se belangrikste ekonomieë het bevestig hulle sal teenwoordig wees. Hulle is Keir Starmer van Brittanje, Giorgia Meloni van Italie, Recep Tayyip Erdogan van Turkye en kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië.
# Rugby: Die Springbokke verskuif vandag van Edinburgh na Londen na gisteraand se oorwinning oor Skotland op Murrayfield. Bok-afrigter Rassie Erasmus sê Saterdag se kragmeting met Engeland op Twickenham sal ‘n heeltemal ander toets wees want hulle speel teen ʼn desperate span na twee agtereenvolgende nederlae teen die All Blacks en die Wallabies in wedstryde wat hulle kon wen. Australië het Engeland hulle vyfde nederlaag in ses toetse besorg en Engeland het teruggesak tot sewende plek op die jongste wêreldranglys – hulle swakste posisie in agt jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-207-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….