Nuus 16:00
BULLETIN 12 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU kritiseer die Weermag oor die onbetaalde vredesmag-toelaes
# Mynbouproduksie toon ‘n beskeie maandelikse toename van twee-persent in Junie
# En rugby: ‘n Gevorderde hoë-tegnologie-mondskerm gaan op die Vroue-Wêreldbekertoernooi gebruik word
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd oor berigte dat lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat op vredesendings in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is, nie hul volle toelaes ontvang het nie. Cosatu beskuldig senior generaals dat hulle fondse steel van gewone soldate wat hul lewens op die spel plaas. Matthew Parks van Cosatu vra die minister van Verdediging, Angie Motshekga, om beslissend op te tree teen korrupsie en te verseker ontplooide lede word billik vergoed:
# Mynbouproduksie in Suid-Afrika het in Junie met twee-persent gestyg in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar, hoofsaaklik te danke aan toenames in platinumgroep-metale, steenkool en chroom-erts. Mineraalverkope het egter in Junie jaar-op-jaar met 14-persent gedaal, hoofsaaklik weens dalings in goud-, mangaan- en steenkoolverkope. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke Suid-Afrika sê verkope in platinumgroep-metale het met 24-persent gestyg, wat die afname gedeeltelik teëwerk:
# Die Solidariteit-beweging, AfriForum en Solidariteit het onttrek van Vrydag se Nasionale Dialoog. Kallie Kriel van AfriForum sê hul ondersteun wel ware dialoog, maar die huidige formaat het ‘n regeringsgedrewe monoloog geword wat die ANC-agenda dien. Kriel sê daar kan nie op die ANC staatgemaak word om die krisisse wat hy self geskep het op te los nie, daarom sal die groepe eerder gemeenskapsgeleide gesprekke met die burgerlike samelewing en kultuurorganisasies voer:
# ‘n Rolstoelgebonde voormalige takbestuurder van die Poskantoor in Shatale, Mpumalanga, Lucia Mashego, is beveel om meer as 146-duisend-rand van haar pensioen aan SASSA-begunstigdes terug te betaal nadat sy, ‘n teller en ‘n medepligtige saamgesweer het om van die geld te steel. Mashego het duplikaat-SASSA-kaarte gebruik om onregmatig 250-duisend-rand uit rekeninge te onttrek. Sy het skuldig gepleit op 60 aanklagte van bedrog en is ‘n opgeskorte vonnis van agt-jaar opgelê. Twee medebeskuldigdes sal môre in die hof verskyn.
# Rugby: Wêreldrugby het ‘n gevorderde hoë-tegnologie-mondskerm aangekondig wat gebruik gaan word op die Vroue-Wêreldbekertoernooi wat volgende week in Engeland begin. Die slim-mondskerms sal verlig en rooi vertoon wanneer die gebruiker ‘n harde stamp teen die kop kry, met die mediese span wat ‘n boodskap ontvang. Die skeidsregter sal dan ‘n boodskap kry om spel te staak. Reuters berig dat die LED-mondskerms ook na die toernooi in hoëvlak-kompetisies gebruik sal word. Die beheerliggaam sê dit is daarop gemik om spelerveiligheid te bevorder en harsingskudding te verminder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-81-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….