Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in die DA Abroad se burgerskap-hofsaak
# Gesinne betoog vir genade vir aangehoude Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee
# En, rugby: Skotland se afrigter waarsku sy spelers moet in elke opsig verbeter wanneer hulle Sondag teen die Bokke speel
# Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in die DA Abroad se aansoek oor Suid-Afrikaanse burgerskap. Die organisasie daag die Suid-Afrikaanse Wet op Burgerskap uit wat die verlies van burgerskap vir Suid-Afrikaners bepaal indien hulle ander lande se burgerskap sonder toestemming bekom. Die Appèlhof het vroeër ten gunste van die DA Abroad beslis en die Konstitusionele Hof moet dit bekragtig. Die DA-woordvoerder, Ludré Stevens, sê hulle is ten gunste van die outomatiese herstel van burgerskap:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê Gauteng ondervind nie ‘n droogte nie maar het beduidende uitdagings met watersekerheid. Die minister doen ‘n beroep op munisipaliteite om waterbeperkings in te stel, stelsels te verbeter, en rioolbesoedeling te verminder. Sy sê ‘n Provinsiale Water-imbizo is aangebied om hierdie uitdagings gesamentlik aan te pak terwyl ‘n platform vir ‘n Water-veilige Gauteng ingestel is:
# Die Departement van Basiese Onderwys het die versekering gegee die moontlikheid om die slaagsyfer van 30-persent te verhoog, word steeds oorweeg. Minister Siviwe Gwarube het aangekondig dat ‘n adviesraad beplan word om te bepaal hoe haalbaar so ‘n stap is. Die kwessie is reeds lank ‘n openbare debat, met baie mense wat meen dit stel ‘n lae standaard vir akademiese prestasie. Gwarube het die kritiek erken en sê sy weet hoe belangrik die saak is.
# Die gesinne van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs wat reeds 634 dae wederregtelik in Ekwatoriaal-Guinee aangehou is, het vandag ‘n vreedsame betoging gehou by die Afrika Energieweek in Kaapstad. Hulle vra begenadiging en beklemtoon dit eis ‘n ernstige tol op die gesondheid van Frik Potgieter en die Brits-Suid-Afrikaanse burger, Peter Huxham. Woordvoerder Francois Nigrini versoek die Suid-Afrikaanse en Britse ministers om in te gryp om die mans se vrylating te verseker:
# Rugby: Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, waarsku sy spelers hulle moet in elke opsig verbeter wanneer hulle Sondag teen die Springbokke te staan kom op Murrayfield in Edinburgh. Dit volg na Skotland se wegholoorwinning van 57-17 oor Fidji. Townsend het die ervare spelers Finn Russell, Blair Kinghorn en Ben White terug verwelkom. Volgens hom is die viermalige wêreldkampioen die beste span in die wêreld en speel tans ʼn ander soort rugby as tydens hulle vorige ontmoeting in die groepfase van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-815-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-741-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….