Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse sal na verwagting dié maand styg
# Die DA beskuldig die ANC-ActionSA-EFF-koalisie dat hulle die opposisie in Tshwane stilmaak
# En, motorsport: Die voorste MotoGP-jaers vra die laaste wedren moet uit die vloedgeteisterde Valencia verskuif word
# Die Automobiel-Assosiasie waarsku motoriste kan gereed maak vir hoër brandstofpryse later die maand. Huidige data van die Sentrale Energiefonds dui op stygings in alle grade brandstof, met 93-oktaan petrol wat met 14-sent per liter en 95-oktaan petrol wat met 25-sent per liter sal styg. Diesel sal na verwagting met sowat 22-sent per liter duurder word, terwyl lampolie met 21-sent per liter sal styg. AA-woordvoerder, Eleanor Mavimbela, raai verbruikers aan om dienooreenkomstig te begroot en hulle brandstofverbruik te monitor:
# Die DA in Tshwane beweer die ANC-ActionSA-EFF-koalisie gebruik geweld om raadslede van die opposisie stil te maak. DA-koukusleier, Cilliers Brink, noem dit ‘n aanslag op demokrasie. Brink beweer die koalisie is nie in staat om debatte te wen nie en wend hulle tot intimidasie. Onderburgemeester Eugene Modise het na bewering geëis DA-raadslede moet verwyder word. Volgens Brink sal die DA aanhou veg vir die inwoners van Tshwane:
# Sadou sê die inisiatief vir vroeë aftrede om die grootte van die staatsdiens te verklein, vereis ingevolge wetgewing beraadslaging met werkers. Dit volg die aankondiging van minister van Finansies, Enoch Godongwana. Dit sluit in om jonger talent in die staatsdiens in te bring. Sadou-woordvoerder, Nomusa Cembi, sê dit is ook in 2012 voorgestel, maar het min reaksie ontlok. Cembi sê om jong talent aan die staatsdiens bekend te stel, word altyd verwelkom, maar dit moet nie die gevestigde geheue van die regering in gevaar stel nie.
# Sewe mense, onder wie vyf kinders, is dood in ‘n bomaanval naby ‘n meisieskool in die weste van Pakistan. Volgens die polisie was die aanval gemik op polisie wat polio-entstowwe bewaak het. Die polisievoertuig wat aangeval is, is gebruik vir die veilige vervoer van poliopersoneel. Pakistan en sy buurland Afghanistan is die enigste lande waar polio steeds endemies is. Inentingspanne word gereeld geteiken deur militante wat ‘n veldtog teen veiligheidsmagte voer.
# Motorsport: Die voorste MotoGP-jaers wil hê die laaste wedren van die seisoen moet uit Valencia in Spanje verskuif word na dié week se dodelike oorstromings. Die streek het binne agt uur ‘n jaar se reënval gekry en byna 100 mense is dood terwyl wydverspreide verwoesting plaasgevind het. Die wedren is geskeduleer vir 16 en 17 November. Die plaaslike renjaer Jorge Martin, wat voorloop in die bestuurderskampioenskap, en die Italianer Francesco Bagnaia, wat tweede is, het die sport se besluitnemers gevra om dringend ‘n ander gasheerbaan aan te kondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-921-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-754-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….