Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana onthul die strategie om die ekonomie tot ‘n hoër en inklusiewe groeikoers op te hef
# Donald Trump en Kamala Harris begin met ‘n toer deur swaaistate voor volgende week se Amerikaanse verkiesing
# En, fietsry: Die Tour de France gaan in 2025 esklusief in Frankryk plaasvind
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê ekonomiese groei van 1,8-persent word oor die mediumtermyn verwag. Hy het in sy minibegrotingsrede in die Nasionale Vergadering groei vir 2024 tot ‘n verwagte 1,1-persent afgegradeer van 1,3-persent in Februarie. Godongwana sê die begroting onderstreep die regering se strategie om die ekonomie tot ‘n hoër en meer inklusiewe groeikoers op te hef. Die strategie is geanker in die handhawing van makro-ekonomiese bestendigheid, die inwerkingstelling van strukturele hervormings, die ondersteuning van infrastruktuur wat groei bevorder en die uitbou van die staat se vermoë.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê ekonomiese herlewing is noodsaaklik vir die stad se finansiële volhoubaarheid. Sy het teenoor die raad beklemtoon ‘n lewendige ekonomie bevorder groei, wat sowel formele ondernemings as informele handelaars bevoordeel. Moya het aangekondig die informele handelstalletjieprojek in Marabastad skop binnekort af. Sy sê die stad sal ook teen Januarie twee-duisend-500 nuwe begunstigdes van die Openbare Indiensnemingsprogram werf:
# Die herlewing van Johannesburg se sentrale sakekern duur voort, met die fokus op die verbetering van veiligheid, infrastruktuur en die algemene stadsomgewing. Die projek het ten doel om ondernemings en inwoners na die gebied terug te lok deur openbare ruimtes te verbeter, polisieteenwoordigheid te verhoog en kwessies soos misdaad en sanitasie aan te pak. Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het aan die media gesê die premierskantoor verskuif na ‘n nuwe gebou in Marshallstraat as deel van hierdie herlewingspoging:
# Donald Trump en Kamala Harris begin vandag die laaste week van die veldtog vir die Amerikaanse presidentskap met ʼn koorsagtige toer deur die swaaistate. Harris begin in Noord-Carolina en reis dan na Pennsilvanië, twee van sewe slagveldstate wat die wenner kan bepaal. Noord-Carolina het sedert Barack Obama in 2008 nog nie weer vir ‘n Demokratiese president gestem nie. Trump sal vandag in dieselfde staat wees. Hy beplan ‘n tweede saamtrek in nog ‘n swaaistaat, Wisconsin, in die Middeweste.
# Fietsry: 2025 se Tour de France gaan eksklusief in Frankryk plaasvind vir die eerste keer sedert 2020 se wedren tydens Covid-19. Die moordende ren het in 2022 in Kopenhagen begin, die jaar daarna in Bilbao en vanjaar in Florence, maar volgende jaar is die wegspring in die Franse stad Lille. Dit kon weens die Olimpiese Spele vanjaar gladnie deur die hoofstad, Parys, beweeg nie. Volgende jaar se wedren sluit agt skofte in die noorde en weste in, en eindig met agt rondes langs die Champs-Elysees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-28-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-775-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….