Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man van Klawer word skuldig bevind aan diei moord op Jerobejin van Wyk in Februarie 2022
# ActionSA sê Suid-Afrika moet self sy buitelandse beleid bepaal
# En, die Olimpiese Spele: Planne vir die hoofstadion tydens 2032 se Spele in Brisbane kan weer verander
# ‘n Man van Klawer in die Wes-Kaap is skuldig bevind aan die grusame moord op die plaaslike tiener, Jerobejin van Wyk, in Februarie 2022. Die Hooggeregshof in Kaapstad het die 58-jarige Daniel Smit se skulderkenning op vyf aanklagte teen hom aanvaar – vir moord, moord met voorbedagte rade, ontvoering, lykskending en regsverydeling. Hy het die 13-jarige vermoor nadat hy hom daarvan beskuldig het dat hy sy vrugte gesteel het, en sy liggaamsdele in ‘n drein op sy eiendom weggegooi. Smit word later gevonnis.
# ActionSA het ‘n beroep op die regering gedoen om alle pogings deur ander lande te weerstaan om sy buitelandse beleid voor te skryf. ActionSA se woordvoerder, Solly Moeng, sê die party glo die regering moet standpunt inneem en nie voor buitelandse druk swig nie. Hy het spesifiek verwys na China, wat wil voorskryf hoe diplomatieke gaste uit Taiwan behandel moet word. Moeng sê die party erken daar is uiteenlopende belange, maar ander lande kan nie buitelandse beleid en globale posisionering gebruik om Suid-Afrikaners te beïnvloed nie:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette moet onmiddellik as geheel ingestel word. President Cyril Ramaphosa het verlede maand die wetsontwerp bekragtig, maar die instellingsdatum vir klousules vier en vyf, wat handel oor taal- en toelatingsbeleid, met drie maande vertraag vir verdere samesprekings. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê transformasie in die onderwyssektor is nie onderhandelbaar nie:
# Die Franse akteur Gerard Depardieu se verhoor op aanklagte van die seksuele aanranding van twee vroue begin vandag in Parys. Die 75-jarige rolprentster sal egter weens gesondheidsredes nie self in die hof wees nie. Depardieu, wat in meer as 200 rolprente verskyn het, word beskou as ikoon van Franse teater. Daar word beweer hy het albei vroue aangerand toe die rolprent Les Volets Verts/The Green Shutters in 2021 verfilm is. Die verhoor word beskou as ‘n groot oomblik vir die groeiende MeToo-beweging in Frankryk.
# Olimpiese Spele: Die debat oor die hoofstadion van 2032 se Spele in Brisbane, Australië, sal na verwagting weer opvlam nadat David Crisafulli vanoggend as nuwe premier van Queensland ingehuldig is. Sy Liberale Nasionale Party het die naweek se verkiesing gewen. Crisafulli se voorganger, Steven Miles, wou die Lang Park-rugbystadion vir die openingseremonie gebruik om uitgawes te beperk. Crisafulli is ook gekant teen die bou van ‘n nuwe stadion, maar oorweeg glo die opknapping van die Gabba-krieketstadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-565-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-734-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….