Nuus 16:00
BULLETIN 11 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie ontken bewerings van rassisme en sê hy sal nie bedank nie
# Die DA veroordeel die nasionale dialoog as ‘n laslappie om die ANC se verkiesingsvooruitsigte te red
# En sokker: Bafana moet Guinee vanmiddag klop om te oorleef in die Afrikanasies-kampioenskap
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy sal nie bedank nie aangesien hy die rol aanvaar het om die volk te dien en nie vir persoonlike gewin nie. Hy kry die wind van voor nadat ou rassistiese twiets weer opgeduik het, maar McKenzie ontken die bewerings en sê dat die helfte van sy familie swart. is Hy het op sosiale media beweer dat dit ‘n politieke smeerveldtog van ActionSA is:
# Die DA het weer die regering se nasionale dialoog verwerp as ‘n verkwistende afleiding sonder ‘n daadwerklike plan om Suid-Afrika se diep ekonomiese en maatskaplike uitdagings te pak. Die party het onttrek van die dialoog wat Vrydag begin, en vra praktiese oplossings, nie eindelose gesprekke nie. Die leier van die DA, John Steenhuisen, het aan die media gesê die nasionale dialoog is daarop gemik om die ANC se verkiesingsvooruitsigte te red eerder as om werklike oplossings te lewer:
# Die adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Johnstone Makhubu, het tydens die Suid-Afrikaanse Belasting-instituut se twaalfde konferensie in Boksburg, Gauteng, omvattende planne uiteengesit om BTW-stelsels, doeanewaarderings en saakbestuur te moderniseer. Makhubu vra onmiddellike betalingstelsels, e-verslaggewing en instelllings-gegronde nakoming om doeltreffendheid te verhoog en onwettige handel te bekamp. Hy bepleit ‘n omvattende regerings-benadering en sê hierdie hervormings is noodsaaklik om die belastinggaping te oorbrug en werkloosheid, ongelykheid en armoede aan te pak:
# Die gemeenskap van Eldoradopark in Johannesburg is woedend omdat die Protea Landdroshof borgtog van 20-duisend-rand toegestaan het aan die voormalige polisielid Mandla Buthelezi wat aangekla word van die moord op sy metgesel, die Gautengse misdaadbestryder Chesnay Keppler. Buthelezi word daarvan beskuldig dat hy die 22-jarige Keppler in Desember doodgeskiet het na ‘n rusie. Hy was sedertdien in aanhouding. Die saak is uitgestel tot volgende maand.
# Sokker: Die afrigter van Bafana Bafana, Molefi Ntseki, sê die span sal vandag se groepswedstryd in die Afrikanasies-kampioenskap teen Guinee in Kampala, Uganda, met respek en omsigtigheid benader. Suid-Afrika het 1-elk teen Algerië gelykop gespeel en moet nou wen om in die kompetisie te bly. Ntseki waarsku oor Guinee se krag in die lug en sy gevaarlike aanvallers. Guinee, wat 3-nul teen Uganda verloor het, is ook desperaat vir punte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-135-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….