Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte verskyn in die hof vir die moord en verkragting van ‘n sesjarige meisie in Soweto
# Drie mense word aangekeer na die massamoord in Bishop Lavis in Kaapstad
# En sikloon Dana saai verwoesting in Indië
# Die vermeende verkragter en moordenaar, Pethe Sara Simiao, het in die Landdroshof in Protea, Soweto, verskyn na die dood van die sesjarige Amantle Semane. Inwoners het haar liggaam in ‘n hut in Orlando-Oos gevind. Simiao is Woensdag in Zola in hegtenis geneem en staan tereg op vier aanklagte, insluitend moord en ontvoering. Die saak is tot 1 November uitgestel vir ’n borgtogaansoek.
# Die Wes-Kaapse polisie het drie verdagtes van onderskeidelik 17, 24 en 29 jaar oud, in hegtenis geneem in verband met ‘n skietery in Bishop Lavis in Kaapstad wat sewe lewens geëis het. ‘n Nege-millimeter-vuurwapen is by hulle gevind en word ballisties ondersoek. Die provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, sê hulle sal tereg staan op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens. Hy het bevestig ondersoeke duur voort na die ander onlangse skietvoorvalle in Atlantis en Mamre, ook in Kaapstad:
# Politieke partye in die Nasionale Vergadering versoek die regulering van spazawinkels na ʼn toename in gevalle van voedselvergiftiging. Dit sluit in die dood van ses kinders in Naledi, Soweto. Sprekers het gedurende die debat beklemtoon die versoek is nie xenofobies of afrofobies nie, maar is gemik op ondernemings wat nie voldoen aan die reëls nie. DA-lid Eleanore Rochelle Spies beklemtoon die behoefte aan deeglike ondersoeke om aandag aan die saak te gee:
# Sikloon Dana het geboue se dakke afgeruk en bome en kragdrade omgewaai toe dit Indië se ooskus getref het, maar daar was skynbaar nie groot ongevalle nie. Siklone, gelykstaande aan orkane in die Noord-Atlantiese Oseaan en tifone in die noordwestelike Stille Oseaan, is ‘n gereelde, dodelike verskynsel in die noordelike Indiese Oseaan. Minstens 1,1-miljoen mense in die state Odisha en Wes-Bengale is na stormskuillings verskuif voor die middelpunt van die sikloon die kus net na middernag getref het.
# Motorsport: Marc Marques het ‘n ronderekord opgestel tydens vandag se oefenrondes vir die Thaise MotoGP, met sy kampioenskaps-mededingers Jorge Martin die tweede vinnigste en die Italianer Francesco Bagnaia vierde. Enea Bastianini was derde. Die Spanjaard Martin is slegs 20 punte voor die tweemalige wêreldkampioen Bagnaia op die wêreldkampioenskaps-punteleer met slegs drie wedrenne oor dié seisoen. Marquez is derde in die wedloop, 79 punte agter Martin, en het net ‘n buitekans om die titel te verower.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-73-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-724-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….