Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die diamanthandelaar Louis Liebenberg verskyn die eerste keer in die hof op aanklag van bedrog
# Minister Macpherson onthul LP’s en ministers skuld Openbare Werke vier-miljoen-rand
# En, rugby: Die Bulle skop die naweek se VRK-kragmetings teen Benetton in Treviso af
# Die diamanthandelaar wat in ‘n beleggingsbedrogspul ter waarde van vier-miljard-rand gewikkel is, Louis Liebenberg, het op ‘n dramatiese manier by die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng, ingestap terwyl hy “Viva Msholozi, viva MK” geskree het. Liebenberg, wat saam met sy vrou Dezzi en sewe ander aangekeer is, staan tereg op aanklagte van rampokkery en bedrog wat verband hou met bewerings dat hulle beleggers verkul het. Die staat is gekant teen borgtog vir drie van die beskuldigdes, maar het voorgestel die res moet borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan word.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het onthul huidige en voormalige parlementslede en kabinetsministers skuld die departement ongeveer vier-miljoen-rand. Hy het die departement se finansiële uitdagings uiteengesit, insluitend ‘n oortrekking van drie-miljard-rand terwyl ander staatsdepartement hulle bykans 14-miljard-rand skuld. Die departement is verantwoordelik vir ministeriële behuising en parlementêre dorpies. Die minister het onderneem om ʼn roetekaart tot finansiële herstel te ontwikkel terwyl geen nuwe behuising of kantoorruimte vir amptenare bekom sal word nie.
# Die DA in Gauteng sê hy sal voortgaan om druk toe te pas dat privaat gesondheidsorg dringend betrokke raak om kankerpasiënte in staatshospitale se lewens te red. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het onthul dat twee-duisend-652 kankerpasiënte op die waglys vir bestralingsterapie is, maar ten spyte daarvan is 511-miljoen-rand van die begroting vir dringende kankergevalle sedert April verlede jaar nie bestee nie. Jack Bloom van die DA sê die LUR se verskoning is dat die uitkontraktering aan privaat inrigtings weer geadverteer moet word:
# Die GOOD-party eis geen verdraagsaamheid met die Amerikaanse kunstenaar, Chris Brown, se besoek aan Suid-Afrika. Hulle versoek die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, om hom as ongewens te verklaar, gegewe sy strafregtelike skuldigbevinding weens die aanranding op Rihanna. Dit het daartoe daartoe gelei dat hy verbied is in Brittanje en Kanada en moontlik geweier sal word deur Australië en Nieu-Seeland. Woordvoerder Kaden Arguile versoek die regering op op te tree ingevolge sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgeweld:
# Rugby: Die Bulle speel môreaand in Treviso, Italië, teen Benetton aan die begin van die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryde. Afskoptyd is om 8:35. Saterdagmiddag verwelkom die Stormers Glasgow Warriors op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch, terwyl die Haaie en Munster mekaar die stryd sal aansê op Kingspark in Durban. Later sal die top-twee spanne op die punteleer, Leinster en die Leeus, mekaar op die Aviva-stadion in Dublin pak. Die Bulle is tans vierde op die punteleer, die Stormers 12de en die Haaie 13de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-304-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….