Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank lê beslag op 67-miljoen-rand van ‘n voormalige uitvoerende amptenaar van Steinhoff
# Ramokgopa wys op die onafhanklike kragprogram se vrystellingbeperkings en energiebesparings
# En, krieket: Die Proteas het ‘n voorsprong van 34 lopies na die eerste dag van die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het beslag gelê op 67-miljoen-rand van die voormalige regshoof van Steinhoff, Stéhan Grobler, weens valutabeheeroortredings. Die geld sal na die Nasionale Inkomstefonds oorgedra word. Grobler het in 2018 bedank en word aangekla van bedrog en rampokkery nadat hy homself in Maart aan die Valke oorgegee het. Hy ontken die aanklagte en is uit op borgtog van 150-duisend-rand. Grobler verskyn vroeg volgende jaar in die hof terwyl Steinhoff ook siviele eise teen hom aanhangig gemaak het.
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die Onafhanklike Kragprodusenteprogram beoog om koolstofvrystellings jaarliks met 350 tot 420-miljoen-ton te verminder. Hy neem kennis van besparings van 5,1-miljard-rand en beklemtoon die aanvaarding van son- en windenergie. Ramokgopa sê met 141 voorkeurbieërs oor nege bodvensters, bespoedig die ministerie skoon energie-projekte en ondersoek aanlyn veilingsmodelle om bod-evaluerings te stroomlyn:
# Die DA vra ‘n dringende debat in die Parlement oor die voortslepende nasionale waterkrisis. Dit volg op ‘n waarskuwing van Rand Water in Gauteng oor moontlike tekorte indien munisipaliteite nie die nodige aanbevelings in werking stel nie. Woordvoerder George Michalakis vra toesig oor die nasionale watertaakspan en verwante departemente en sê die Gautengse provinsiale regering tree nie vinnig genoeg op nie:
# ‘n Senator in die Australiese parlement het op koning Charls geskree hy is nie Australië se koning nie en hulle het volksmoord teen die mense van Australië gepleeg. Sekerheidswagte het Lidia Thorpe verhinder om naby die koning te kom en haar uit die saal geneem. Thorpe is die eerste inheemse vrou van die staat Victoria wat ‘n senator geword het. Sy het geweier om ‘n eed van getrouheid aan die troon af te lê toe sy ingehuldig is. Sy het ook vroeër betoog toe die koninklikes ‘n krans by ‘n oorlogsgedenkteken gelê het.
# Krieket: Suid-Afrika het 140 vir ses bereik met uitskeityd op die eerste dag van die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur. Die Proteas se boulers het uitstekend gevaar om die gashere vir net 106 uit te boul, maar Suid-Afrika se instaan-kaptein, Aiden Markram, het daarna sy paaltjie vir net ses lopies te verloor en nog vyf kolwers is uitgehaal toe die eerstebeurt-voorsprong net twee lopies was. Tony de Zorzi het 30 bygedra, Ryan Rickelton 27 en Tristan Stubbs 23. Kyle Verreyne en Wiaan Mulder hervat môre die beurt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-215-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….