Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan borgtog teenstaan vir die polisielid van Limpopo en haar familielede in die polisbedrog-moordsaak
# Everest Wealth sê daar heers optimisme oor die regering van nasionale eenheid se eerste 100 dae
# En, tennis: Björn Borg se seun sê Rafael Nadal is sy gunstelingspeler, nie sy pa nie
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sal borgtog teenstaan vir die polisiesersant van Limpopo, Rachel Kutumela, haar suster, Annah Shokane, en haar dogter, Madjadji Shokane, wat vandag in die Landdroshof in Polokwane verskyn het in verband met polismoorde. Kutumela word daarvan aangekla dat sy op bedrieglike wyse lewensversekeringspolisse vir verskeie slagoffers uitgeneem, tien-miljoen-rand geëis en die opbrengs gedeel het. Die NVG se woordvoerder, Mashudu Malabi Dzhangi, sê nog mense kan aangekeer word:
# Everest Wealth berig die regering van nasionale eenheid word optimisties beskou na sy eerste 100 dae. Uitvoerende hoof, Thys van Zyl, sê die ekonomiese sentiment het verbeter en word aangedryf deur hervormings. Dit sluit belangrike aankondigings van verskeie ministers in, insluitend die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, oor belegging in infrastruktuur, en die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, oor visumhervormings. Van Zyl waarsku egter hoewel die regering se fokus op hervormings markvertroue laat verbeter, is politieke bestendigheid deurslaggewend om hierdie winste te behou.
Die DA is intussen bekommerd oor Suid-Afrika se eis dat Taiwan se Taipei-skakelkantoor Pretoria moet verlaat. Die jare lange ooreenkoms wat Taiwan se handel en verteenwoordiging toelaat, bestaan al 26 jaar. Hoewel hy die land se standpunt oor Een China erken, versoek die DA ‘n duidelike rede vir hierdie onverwagse verandering. DA-woordvoerder, Emma Louise Powell, dring aan dat enige wysigings aan hierdie ooreenkoms deur die regering van nasionale eenheid gesteun word:
# ‘n Groep van 16 Japannese jongmense dagvaar nutsmaatskappye oor hul koolstofvrystelling, in die jongste saak wêreldwyd waar aktiviste die howe inspan om aan te dring op optrede teen klimaatsverandering. Die eisers, almal in hul tienerjare en 20’s, sê dit is die eerste saak van sy soort in Japan, wat volgens aktiviste die vuilste energiemengsel van G7-lande het. Die regsgeding is teen 10 operateurs van kragsentrales wat fossielbrandstowwe verbrand waarvan die uitlaatgasse onversoenbaar is met Japan se klimaatsverpligtinge. Die eerste verhoor vind volgende week plaas.
# Tennis: Die seun van die Sweedse legende Björn Borg sê hoewel sy pa elf Grand Slam-titels ingepalm het tydens sy loopbaan, is hy nie sy gunstelingspeler nie. Leo Borg beskryf Rafael Nadal as sy grootste held nadat die Spaanse meester verlede week sy uittrede aangekondig het. Die 22-malige Grand Slam-kampioen gaan sy glorieryke loopbaan afsluit na volgende maand se Davisbeker-eindtoernooi. Die 21-jarige Borg sê hy het Nadal van kleinsaf dopgehou en hy is waarskynlik die rede waarom hy self begin tennis speel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-795-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….