Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Prasa stel 31 spoornetwerke weer in werking as deel van sy herstelpogings
# Transnet gaan waterstofterminale by Suid-Afrikaanse hawens aanbring
# En, krieket: Ben Stokes keer terug as kaptein van Engeland in die tweede toets teen Pakistan
# Prasa het aangekondig dat hy 31 uit sy 40 spoornetwerke weer in werking gestel het. Die herstelpoging het ‘n verbysterende bedrag geld gekos en miljarde is belê om dienste te herstel. Die netwerk het tot niet gegaan weens groot skade en opsetlike beskadiging. Prasa se uitvoerende hoof, Hishaam Emeran, sê daar is hoop vir ‘n meer betroubare pendelstelsel in die land namate spoordienste geleidelik in werking gestel word.
# Transnet finaliseer planne om waterstofterminale aan te bring by groot hawens in Suid-Afrika, gemik op die verbetering van die land se waterstofuitvoere binne die volgende dekade. Die vraglogistiek-maatskappy wil in samewerking met Hive Energy, wat in Brittanje baseer is, waterstofinfrastruktuur bou by hawens, waaronder Durban, Kaapstad en Saldanha. Suid-Afrika se plan vir Billike Energie-oordragn sê tussen 2023 en ’27 sal 319-miljard-rand se befondsing nodig wees vir die groenwaterstofsektor se infrastruktuur en produksievermoë.
# Rand Water in Gauteng sê hy werk teen volle krag en kan nie ekstra water in die stelsel inpomp nie. Die voorraadstelsels wat Rand Water se reservoirs insluit, is uiters laag en die situasie sal waarskynlik met die voortslepende hittegolf vererger. Rand Water se woordvoerder, Makenosi Maroo, sê munisipaliteite word gewaarsku om fisiese waterverliese met 33-persent te verminder, lekplekke soos in hulle No Drop-verslag uitgewys is, te herstel en verordeninge toe te pas:
# Krieket: Ben Stokes is terug as kaptein van Engeland in die tweede toets teen Pakistan wat môre in Multan begin. Hy het die eerste toets misgeloop waartydens verskeie rekords verbeter is. Engeland het Pakistan met ʼn beurt en 47 lopies verslaan na sy reusagtige 823 vir sewe in sy eerste beurt. Die snelbouler Matthew Potts keer ook terug en hy en Stokes vervang vir Gus Atkinson en Chris Woakes. Die gashere het verskeie veranderings aangebring, onder meer die weglating van die gewese kaptein, Babar Azam, en die snelboulers Naseem Shah en Shaheen Shah Afridi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-892-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het die voormalige minister van Finansies, Tito Mboweni, geloof vir sy bydrae tot beleidmaking. Mboweni is hierdie naweek na ‘n kort siekbed dood. Hy het tussen 1999 en 2009 as die Reserwebank se president gedien. Kganyago het Mboweni as ‘n man van integriteit met diep ekonomiese insig beskryf en het die rol wat hy gespeel het in die verdediging van die sentrale bank beklemtoon:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….