Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel ononderhandelbare standpunte in die regering van nasionale eenheid
# Die MK-party aanvaar ‘n nuwe grondwet en strategiese aanstellings
# En, rugby: Wedstrydbeamptes word aangewys vir November se toetse
# Die DA het sy ononderhandelbare standpunte in die regering van nasionale eenheid uiteengesit. Leier John Steenhuisen het oor die eerste 100 dae van die regering aan die media gesê die party is absoluut gekant teen borgstelling vir ondernemings in staatsbesit, die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette en die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering. Hy verwerp ook die EFF se Privaat Ledevoorstel oor die nasionalisering van die Reserwebank:
# Die MK-party het ‘n nuwe grondwet aanvaar en duidelike doelwitte, leierskapstrukture en beginsels aanvaar. Die grondwet sit die organisasie se se visie vir politieke, maatskaplike en ekonomiese hervormings uiteen. Die party se nasionale opperbevel het amptenare in verskillende provinsies ontplooi, met partyleier Jacob Zuma in KwaZulu-Natal en adjunkpresident John Hlophe in die Wes-Kaap. Die nasionale organiseerder, Floyd Shivambu, het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie stappe is daarop gemik om die party se nasionale teenwoordigheid te versterk:
# Die EFF is ontsteld oor die besluit van die Nasionale Vervolgingsgesag om president Cyril Ramaphosa nie oor die Phala Phala-plaasskandaal te vervolg nie. Hulle beweer staatsinstellings beskerm Ramaphosa teen geregtigheid. EFF-woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê ernstige misdaad is gepleeg, insluitend buitelandse valuta wat nie verklaar is nie en die misbruik van die staat se hulpbronne:
# Die Britse regering ondersoek 37 Brits-gekoppelde ondernemings vir die moontlike oortreding van Russiese olie-sanksies, maar geen boetes is tot dusver uitgereik nie. Volgens die BBC is die ondernemings nog onbekend, maar sommige kan moontlik maritieme versekeringsondernemings wees. Die Tesourie sê hy sal stappe doen waar toepaslik, maar voeg by dit sal ‘n geruime tyd duur omdat die sake so ingewikkeld is. Brittanje en ander Westerse lande het finansiële sanksies teen Rusland ingestel ná die inval in Oekraïne in 2022.
# Rugby: Die Suid-Afrikaner Morné Ferreira sal volgende maand sy eerste toets hanteer nadat Wêreldrugby hom aangewys het as skeidsregter van die wedstryd tussen Spanje en Fidji in Valladolid. Wêreldrugby het die wedstrydbeamptes vir die toetsvenster in November bekendgemaak wat die Springbokke se drie toetse in Edinburgh, Londen en Cardiff insluit. Christophe Ridley van Engeland is in beheer teen Skotland, Andrew Brace van Ierland is die skeidsregter teen Engeland en Karl Dickson van Engeland sal die fluitjie blaas teen Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-143-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….