Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# AfriForum beweer Panyaza Lesufi smeer korrupsie toe in die Gautengse regering
# ACSA bevestig vlugte is afgestel op die King Phalo-lughawe in die Oos-Kaap
# En, rugby: Frankryk hervorm sy dissiplinêre stelsel na sy omstrede toer in Argentinië
# AfriForum beweer Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, smeer korrupsie toe ten opsigte van bedrog en geldwassery in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Woordvoerder Barry Bateman sê die Private Vervolgingseenheid tree namens ‘n verklikker op wat beweer Lesufi het versuim om op te tree na ʼn forensiese verslag amptenare betrek het dat hulle fondse wanbestee wat vir nie-regeringsorganisasies bestem is. Hy sê Lesufi het ʼn regspraktyk opdrag gegee om die amptenare van alle skuld te onthef:
# Die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika het bevestig alle inkomende en uitgaande vlugte op die King Phalo-lughawe in die Oos-Kaap is uitgestel weens ongunstige weer in Oos-Londen. Vlugbedrywighede sal na verwagting hervat sodra toestande verbeter. ACSA vra om verskoning vir enige ongerief aan passasiers. Meer inligting is beskikbaar op die ACSA-toepassing of deur regstreeks met lugrederye te skakel.
# Honderde-duisende mense in Florida, Amerika, maak gereed om hulle huise te ontruim voor die aankoms van Orkaan Milton. Staatsamptenare waarsku dit gaan moeiliker word om ʼn veilige plek te bereik namate mense uitstel. Orkaan Milton het oornag tot ʼn Kategorie 4-storm verswak, maar sal na verwagting later vandag weer ʼn Kategorie 5 word. Die storm sal na verwagting die land bereik aan die Golfkus van Florida. Amptenare waarsku Milton se trefkrag kan groter skade oor ʼn wyer gebied aanrig as Orkaan Helene, waarin meer as 200 mense dood is.
# Rugby: Die Franse beheerliggaam het planne bekendgemaak om sy dissiplinêre stelsel te hervorm nadat drie lede van die nasionale span hulle aan die verkeerde kant van die gereg bevind het tydens die onlangse toer deur Argentinië. Hugo Auradou en Oscar Jegou is albei op aanklagte van verswarende verkragting aangekeer en Melvyn Jaminet is huis toe gestuur weens rassistiese opmerkings op sosiale media waarvoor hy vir 34 weke geskors is. Die president van die federasie, Florian Grill, sê die bestaande stelsel werk nie en beheer en sanksies sal verstrek word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-532-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-23-sent per vat.
# En ten slotte: Die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe het die Nobelprys vir Fisika vir 2024 aan John Hopfield van Amerika en Geoffrey Hinton van Kanada toegeken vir hulle werk met kunsmatige neurale netwerke. Hopfield het ʼn netwerk geskep wat patrone in data skep en berg, terwyl Hinton metodes vir masjiene geskep het om patrone op hulle eie te leer en te herken. Hinton het tydens ʼn nuuskonferensie gesê hulle navorsing het kunsmatige intelligensie grootliks bevorder met toepassings in beeldherkenning en nuwe materiaalontwikkeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….