Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die sektor vir menslike nedersettings het ‘n magdom uitdagings
# Die DA kritiseer ‘n Oos-Kaapse uitvoerende hoof se hotelverblyf van 574-duisend-rand
# En, basketbal: LeBron en Bronny James maak NBA-geskiedenis
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, sê die sektor het te kampe met ‘n magdom uitdagings soos klimaatsverandering, bevolkingsgroei, lae ekonomiese groei, verstedeliking en bestuursonbestendighaid op plaaslike regeringsvlak. Kubayi het op die Wêreldhabitatdag-vierings en die bekendstelling van die Menslike Nedersettingsnavorsingstrategie gepraat. Sy sê talle dorpe worstel met probleme soos ontvolking, ‘n ouerwordende bevolking en onvoldoende infrastruktuur:
# Die DA het die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid veroordeel oor die besteding van meer as 574-duisend-rand aan hotelverblyf vir die uitvoerende hoof van die Zithulele-hospitaal, Nolubabalo Fatyela. Die DA-lid, Karl le Roux, het beklemtoon die geld is bestee, ondanks die begrotingskrisis waarin die departement verkeer. Hy sê die DA beplan om ‘n Staatsdienskommissie-ondersoek na die aangeleentheid te versoek en eis aanspreeklikheid en dissiplinêre stappe vir onreëlmatige en verkwistende besteding:
# Die gasvryheids-organisasie Fedhasa verwelkom die aanstelling van ‘n nuwe raad vir Suid-Afrikaanse Toerisme. Nasionale direkteur, Rosemary Anderson, sê raadsverteenwoordiging is noodsaaklik om doeltreffende toerismestrategieë en ekonomiese groei te ontwikkel. Anderson het aan eNCA beklemtoon die raad se begrip van uitdagings en geleenthede vir die bedryf sal gestalte gee aan beleid tot voordeel van die algehele toerisme-ekostelsel:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid het die begroting vir die tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema verhoog vanaf 400-miljoen- tot 2,4-miljard-rand. Hierdie befondsing het ten doel om afleggings te voorkom en sukkelende ondernemings te ondersteun. Minister Nomakhosazana Meth het ondernemings wat finansiële probleme ondervind aangemoedig om aansoek te doen vir TERS, wat ‘n salarisondersteuning van tot 12-maande bied. Die toename is weens aansienlike werkverliese in sektore soos mynbou, vervaardiging en telekommunikasie.
# Basketbal: LeBron en Bronny James het NBA-geskiedenis gemaak deur die eerste pa-en-seun-duo in die geskiedenis te word wat in dieselfde span speel tydens die voorseisoense wedstryd van die Los Angeles Lakers teen die Phoenix Suns. ʼn Pa en seun het nog nooit vantevore saam in enige soort NBA-wedstryd gespeel nie. Die Lakers het Bronny in Junie by die Universiteit van Suid-Kalifornië gewerf. LeBron hou die rekord van alle tye as puntemaker in die NBA en is ʼn viermalige NBA-wenner. Die 39-jarige speel in sy 22ste seisoen in die NBA.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-36-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….