Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof geregtigheid vir die slagoffers van die Lusikisiki-massaskietery
# LUR Maile sê die e-tol-skuldbetaling sal nie dienslewering beïnvloed nie
# En, padwedlope: Die Chicago Marathon beplan om die ontslape rekordhouer Kelvin Kiptum te vereer
# President Cyril Ramaphosa sê geregtigheid sal geskied ná Vrydag se massaskietery in Lusikisiki in die Oos-Kaap wat die lewens van 18 mense, meestal vroue, geëis het. Hulle het voorberei om ‘n grafsteen-onthulling by te woon vir twee familielede wat verlede jaar vermoor is. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Mangwenya, sê die president het sy meegevoel met die slagoffers se families betuig en die versekering gegee spesialisspeurders en forensiese kundiges van die polisie is ontplooi om ondersoek in te stel:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê die betaling van e-tol-skuld sal nie dienslewering beïnvloed nie. Sy departement sal die eerste paaiement van meer as drie-miljard-rand van die algehele skuld van 12-miljard-rand aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap betaal. Maile beklemtoon noodsaaklike dienste soos onderwys, skoolvervoer en gesondheid sal nie hierdeur geraak word nie:
# Die MK-party sê hy is absoluut gekant teen die voortgesette verergering van die Oekraïens-Russiese konflik. Woordvoerder Wesley Douglas sê die onlangse wysigings aan die Russiese kernwapendoktrine, soos uitgesit deur president Vladimir Putin, dui op ‘n gevaarlike klemverskuiwing in globale sekerheidsdinamika. Volgens hom verlaag hierdie veranderings die drempel vir die moontlike gebruik van kernwapens deur Rusland, veral in geval van ‘n reaksie op enige konvensionele aanval deur state sonder kernwapens gesteun deur diegene met kernwapens, soos NAVO se betrokkenheid in Oekraïne:
# Padwedlope: Die Chicago Marathon beplan om op 13 Oktober die Keniaanse marathonatleet, Kelvin Kiptum te vereer – ‘n jaar nadat hy ‘n nuwe manswêreldrekord opgestel het. Kiptum was slegs 23 toe hy die wedloop in twee uur en 35 sekondes afgeblits het. Hy is vier maande later in ‘n motorongeluk dood. Daar sal ‘n oomblik van stilte aan die begin van die wedloop wees om Kiptum te vereer met ‘n tentoonstelling van sy loopbaan by die wedloop-ekspo en gedenkplakkers vir alle deelnemers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-824-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Amazon het ‘Shop Mzansi’ bekendgestel. Dit is ‘n nuwe winkelfront wat meer as 160 plaaslike handelsmerke ten toon stel ter viering van Suid-Afrika se uiteenlopende kultuur. Die platform bevat duisende produkte in kategorieë soos speelgoed, kombuistoestelle en skoonheidsprodukte. Amazon se besturende direkteur in Afrika suid van die Sahara, Robert Koen, het beklemtoon hoe belangrik dit is om klein ondernemings te ondersteun en entrepreneurskap te bevorder. Hy sê hierdie projek het ook ten doel om plaaslike ondernemings te help om toegang tot wêreldwye Amazon-winkels te kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….