Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se burgemeester word verwyder met ‘n mosie van wantroue
# Motoriste kan uitsien na groot brandstofprysverlagings in Oktober
# En, krieket: Die Proteas se veelsydige spelers wil indruk maak teen Ierland
# Die Tshwane-metroraad het met 120 stemme teen 87 gestem ten gunste van ‘n mosie van wantroue in die DA-burgemeester, Cilliers Brink. Die ANC, die EFF en ActionSA het die mosie gesteun terwyl die DA en die Vryheidsfront Plus daarteen gestem het.
Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het vroeër gewaarsku Brink se verwydering kan die stad se hernuwingspogings in die wiele ry. Zille glo sy leierskap is noodsaaklik vir groei en bestendigheid in die munisipaliteit. Sy glo sy ontseteling sal die gees van samewerking met die regering van nasionale eenheid ondermyn en politieke agendas bo die behoeftes van die gemeenskap plaas:
# Motoriste kan volgende maand uitsien na aansienlike brandstofbesparings, met vooruitskattings wat ‘n vermindering vir die vyfde agtereenvolgende maand aandui. Die Outomobiel-assosiasie voorspel ‘n daling van een-rand-13 sent per liter vir 95-oktaan petrol en een-rand-vyf-sent vir 93-oktaan. Dieselpryse kan met een-rand-tien- tot een-rand-12 sent per liter daal, terwyl lampolie ‘n vermindering van een-rand-agt sent per liter kan verwag. Die AA se woordvoerder, Eleanor Mavimbela,verwelkom die verwagte dalings, maar doen ‘n beroep op die regering om brandstofpryse te hersien:
# ʼn Vriend van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, het skuldig gepleit aan binnehandel omdat hy voor die maatskappy se ineenstorting meer as 39-duisend aandele verkoop het. Die 89-jarige Gerhard Burger het skuldig gepleit op drie aanklagte van binnehandel en is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar. Jooste het Burger in 2017 in stemboodskappe aangeraai om sy aandele te verkoop. Die saak volg nadat Steinhoff se regshoof, Stéhan Grobler, in Maart aangekeer is op aanklag van bedrog en rampokkery.
# Krieket: Suid-Afrika en Ierland meet kragte in twee T20s en drie eendagwedstryde in die Verenigde Arabiese Emirates, met die eerste T20 môre in Abu Dhabi. Die Proteas het pas ʼn geskiedkundige eendagreeksnederlaag met 2-1 teen Afghanistan gely en verskuif nou hulle aandag na die kortste formaat van die spel. Patrick Kruger is een van verskeie veelsydige spelers in die groep en sê daar is gesonde mededinging tussen die spanlede:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-522-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die misdaadontleder, Willem Els, sê misdadigers in Suid-Afrika het vrees en respek vir die polisie verloor met skietgevegte tussen misdadigers en polisiebeamptes wat regoor die land toeneem. Onlangse voorvalle in die Wes- en die Oos-Kaap het minstens sewe lewens geëis. Els verwys na misdadigers se toenemende waaghalsigheid. In die verlede sou hulle oorgegee het in ‘n botsing met die polisie, maar nou probeer hulle hul pad oopskiet. Polisiebeamptes is ook huiwerig om vuurwapens te gebruik uit vrees vir die regsgevolge indien hulle verkeerd sou optree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….