Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa versoek die Presidensie se personeel om diens aan Suid-Afrikaners voorop te stel
# Die Landboubesigheid-vertroue-aanwyser styg ná ‘n 15-jaar-laagtepunt
# En, rugby: Die Springbokke verwag ‘n groot stryd in Argentinië
# President Cyril Ramaphosa het die Presidensie se personeel aangemoedig om met trots die nasie te dien en Suid-Afrikaners eerste te stel. Die opmerkings is gemaak tydens die eerste Langdienstoekennings wat die Presidensie aangebied het, ter viering van die toewyding van jarelange personeel. Hy het ook die behoefte aan verbeterde dienslewering en die vinnige instel van beleid beklemtoon:
# Die Landbou-sakevertroue-aanwyser het in die derde kwartaal van 2024 tot 48 hertel, ‘n verbetering van die 15-jaar laagtepunt in die tweede kwartaal. Die styging is weens verminderde politieke onsekerheid en ʼn verskuiwing terug na landboukwessies. Ten spyte daarvan bly dit onder 50 punte met uitdagings soos droogte, vraagstukke oor infrastruktuur en siektes, wat voortduur. Daar was verbeterings in omset en kapitaalbelegging, maar die sentiment jeens uitvoere daal. Die woordvoerder van Agbiz, Wandile Sihlobo, glo hoewel optimisme heers, hang langtermyn groei af van die oplos van uitdagings met infrastruktuur en uitvoere.
# Die voormalige burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings in Kaapstad, Malusi Booi, en vier medebeskuldigdes is elk borgtog van 250-duisend-rand in die Landdroshof in Kaapstad toegestaan. Nog ‘n medebeskuldigde se borgtog is op 150-duisend-rand vasgestel, terwyl nog vier elkeen borgtog van 25-duisend-rand toegestaan is. Hulle word aangekla van geldwassery, rampokkery en bedrog in ʼn behuising-tender bedrogsaak van meer as een-miljard-rand. Die eienaar van ‘n konstruksiemaatskappy, Nicole Johnson, en haar man, die misdaad-grootkop, Ralph Stanfield, sal na verwagting met die volgende hofverskyning in Oktober ook by die saak gevoeg word.
# Rugby: Die Springbokke is oorgehaal om Saterdag die Rugbykampioenskaps-titel in Argentinië te verower, maar hulle is deeglik bewus daarvan dat die tuisspan ook nog ‘n faktor is. Die wêreldkampioene is bo-aan die punteleer en agt punte voor Argentinië in die tweede plek. ’n Oorwinning in Santiago sal aan die Springbokke hulle eerste titel sedert 2019 besorg. Die Pumas het reeds vanjaar met Nieu-Seeland en Australië afgereken. Die losvoorspeler Kwagga Smith sê die Springbokke is ten volle gefokus op die stryd wat voorlê:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-198-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-580-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
# Ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, moedig inwoners aan om deel te neem aan die jaarlikse Wes-Kaapse Groot Stap-geleentheid. Dit word volgende maand in Rondebosch gehou en is daarop gemik om ʼn aktiewe leefstyl en die belangrikheid van geestelike welstand te bevorder. Die departement se woordvoerder, Tania Colyn, sê deelnemers kan kies tussen ʼn afstand van 5 of 10 kilometer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….